Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 14:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die klomp Israeliete het toe verskriklik begin huil, hulle het sommer dwarsdeur die nag aangehou.

2. Hulle het teen Moses en Aäron in opstand gekom en gesê: “As ons maar eerder in Egipte of in die woestyn doodgegaan het, dan was dit baie beter!

3. Hoekom het die Here ons na die land toe gebring as ons in elk geval net doodgemaak gaan word en ons vroue en kinders as gevangenes weggevat gaan word? Miskien is dit vir ons beter om terug te gaan Egipte toe!”

4. Hulle het toe onder mekaar begin planne maak: “Kom ons kies vir ons ’n nuwe leier wat ons sal terugvat Egipte toe.”

5. Moses en Aäron het uit pure moedeloosheid op hulle knieë voor die volk gaan staan.

6. Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur

7. en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het.

8. As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop.

9. Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!”

Lees volledige hoofstuk Numeri 14