Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 13:22-33 Die Boodskap (DB)

22. Hulle is toe deur die Negev. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Hebron, ’n stad wat reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou is. Enak se afstammelinge, Agiman, Sesai en Tamai, het hier gebly.

23. Daarna is hulle af na die Eskolvallei toe, waar hulle ’n tros druiwe afgesny het. Die tros was so groot dat twee van hulle dit moes dra terwyl dit aan ’n stok gehang het. Hulle het ook ’n klompie granate en vye saamgevat.

24. Hulle het die plek Eskol, of “druiwetros”, genoem, omdat hulle so ’n groot tros druiwe daar afgesny het.

25. Na 40 dae in Kanaän het hulle besluit om terug te gaan kamp toe.

26. Toe hulle in die kamp by Kades in die Paranwoestyn aankom, het hulle aan Moses en Aäron en die hele volk verslag gedoen. Hulle het ook vir almal die vrugte gewys wat hulle saamgebring het.

27. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het die land gaan deurkyk soos u beveel het. Dit is beslis ’n wonderlike land met baie potensiaal. Om ’n beeld te gebruik: daar is so baie melk en heuning, dit lyk of dit sommer in strome deur die land vloei. Hier is van die vrugte wat ons teruggebring het om te wys wat ons bedoel.

28. Die enigste probleem is dat die mense wat daar bly, ongelooflik sterk is. Hulle stede is baie groot en is versterk met dik mure om hulle. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar raakgeloop.

29. Aan die suidekant, in die Negev, bly die Amalekiete, in die middel in die bergagtige gebiede bly die Hetiete, Jebusiete en Amoriete, terwyl die Kanaäniete aan die westekant teen die Middellandse See en aan die oostekant teen die Jordaanrivier bly.”

30. Kaleb het toe die mense wat hieroor begin kla het, stilgemaak en hulle probeer motiveer en gesê: “Kom ons val hulle dadelik aan, want ons kan hulle beslis oorrompel.”

31. Maar die ander leiers wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Ons kan nie teen hulle gaan oorlog maak nie, hulle is baie sterker as ons!”

32. Hulle het ook allerhande bangmaakstories oor die land en sy mense onder die volk begin versprei. “Die land wat ons verken het, sluk sy inwoners in,” het hulle gesê, “om nie eers te praat van die mense wat daarin bly nie: hulle is almal reusagtig groot.

33. Om die waarheid te sê, ons het ’n paar reuse daar gesien, almal afstammelinge van Enak. Ons het so klein soos sprinkane teen hulle gevoel en ons dink hulle het ons seker vir sprinkane aangesien.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 13