Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 13:22-28 Die Boodskap (DB)

22. Hulle is toe deur die Negev. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Hebron, ’n stad wat reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou is. Enak se afstammelinge, Agiman, Sesai en Tamai, het hier gebly.

23. Daarna is hulle af na die Eskolvallei toe, waar hulle ’n tros druiwe afgesny het. Die tros was so groot dat twee van hulle dit moes dra terwyl dit aan ’n stok gehang het. Hulle het ook ’n klompie granate en vye saamgevat.

24. Hulle het die plek Eskol, of “druiwetros”, genoem, omdat hulle so ’n groot tros druiwe daar afgesny het.

25. Na 40 dae in Kanaän het hulle besluit om terug te gaan kamp toe.

26. Toe hulle in die kamp by Kades in die Paranwoestyn aankom, het hulle aan Moses en Aäron en die hele volk verslag gedoen. Hulle het ook vir almal die vrugte gewys wat hulle saamgebring het.

27. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het die land gaan deurkyk soos u beveel het. Dit is beslis ’n wonderlike land met baie potensiaal. Om ’n beeld te gebruik: daar is so baie melk en heuning, dit lyk of dit sommer in strome deur die land vloei. Hier is van die vrugte wat ons teruggebring het om te wys wat ons bedoel.

28. Die enigste probleem is dat die mense wat daar bly, ongelooflik sterk is. Hulle stede is baie groot en is versterk met dik mure om hulle. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar raakgeloop.

Lees volledige hoofstuk Numeri 13