Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 13:15-29 Die Boodskap (DB)

15. Geüel, die seun van Maki uit die stam van Gad

16. Dit is die manne wat Moses gestuur het om die land te gaan deurkyk. Moses het Nun se seun Hosea se naam na Josua verander.

17. Moses het vir hulle gesê: “Gaan noord hiervandaan, deur die Negevwoestyn en dan al met die berge van Kanaän langs.

18. Vind uit watter soort gebied dit is en hoeveel mense daar bly. Kyk of hulle hulleself sal kan verdedig as ons hulle sou aanval.

19. Vind ook uit of dit goeie grondgebied is of nie. Kyk ook hoeveel van hulle stede versterkte mure het.

20. Verder moet julle kyk of die gebied vrugbaar is en of dit bome het. Maak seker dat julle ook van die vrugte van die land vir ons saambring.” Dit was juis tyd vir die vroeë druiwe om ryp te word toe Moses hulle die land in gestuur het.

21. Hulle is toe daar weg en het die hele land deurgegaan van die Sinaiwoestyn in die suide af tot by Regob in die noorde, naby Hamat.

22. Hulle is toe deur die Negev. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Hebron, ’n stad wat reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou is. Enak se afstammelinge, Agiman, Sesai en Tamai, het hier gebly.

23. Daarna is hulle af na die Eskolvallei toe, waar hulle ’n tros druiwe afgesny het. Die tros was so groot dat twee van hulle dit moes dra terwyl dit aan ’n stok gehang het. Hulle het ook ’n klompie granate en vye saamgevat.

24. Hulle het die plek Eskol, of “druiwetros”, genoem, omdat hulle so ’n groot tros druiwe daar afgesny het.

25. Na 40 dae in Kanaän het hulle besluit om terug te gaan kamp toe.

26. Toe hulle in die kamp by Kades in die Paranwoestyn aankom, het hulle aan Moses en Aäron en die hele volk verslag gedoen. Hulle het ook vir almal die vrugte gewys wat hulle saamgebring het.

27. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het die land gaan deurkyk soos u beveel het. Dit is beslis ’n wonderlike land met baie potensiaal. Om ’n beeld te gebruik: daar is so baie melk en heuning, dit lyk of dit sommer in strome deur die land vloei. Hier is van die vrugte wat ons teruggebring het om te wys wat ons bedoel.

28. Die enigste probleem is dat die mense wat daar bly, ongelooflik sterk is. Hulle stede is baie groot en is versterk met dik mure om hulle. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar raakgeloop.

29. Aan die suidekant, in die Negev, bly die Amalekiete, in die middel in die bergagtige gebiede bly die Hetiete, Jebusiete en Amoriete, terwyl die Kanaäniete aan die westekant teen die Middellandse See en aan die oostekant teen die Jordaanrivier bly.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 13