Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 22:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Moses moes vir hulle sê: “Enigeen onder julle of julle kinders wat met die offers werk wat die Israeliete vir die Here bring terwyl hy nie reg is daarvoor nie, sal uit sy werk weggevat word.

4. As iemand uit Aäron se familie ’n aansteeklike velsiekte het, of ’n afskeiding het, mag hy nie van die offers eet voor hy gesond geword het nie. ’n Dienaar is nie reg vir sy werk as hy aan ’n dooie ding gevat het nie. Hy is ook nie reg as hy saad gestort het

5. of geraak het aan enige kruipende insek wat hom kan besoedel nie. Wanneer hy aan ’n ander mens gevat het en sy onreinheid op hom oorgedra het, is hy ook nie reg nie.

6. Hy moet vir die res van die dag wegbly van die Here se tent af. Hy mag in daardie tyd ook nie van die offers eet nie. Nadat hy homself gewas het

7. en die son ondergegaan het, is hy egter weer reg vir sy werk. Hy mag dan weer van die offers eet, omdat dit die enigste kos is vir die dienaars.

8. Die dienaars moenie ’n dier eet wat vanself gevrek het of wat deur ander diere verskeur is nie. Dit maak dat hy nie reg is om sy werk te doen nie. Ek is die Here.

9. Die dienaars moet doen soos die Here sê. Hulle moet nie die Here se opdragte belaglik maak nie. Hulle sal sterf as hulle die gewyde gawes ontwy. Ek is die Here wat hulle aan my diens toegewy het.”

10. “Iemand wat nie by die Here se tent werk nie, mag nie van die offers eet nie. Iemand wat by hom in sy huis woon en iemand wat vir hom werk, mag ook nie daarvan eet nie.

11. Die slawe wat hy vir homself gekoop het en dié wat in sy huis gebore is, mag wel saam met hom sy deel van die offer eet.

12. As sy dogter met iemand trou wat nie ook by die tent werk nie, mag sy nie langer saam eet aan sy deel van die offers nie.

13. As sy dogter ’n weduwee word of van haar man skei, en sy het geen kinders nie en sy kom bly weer by haar pa soos toe sy nog ’n afhanklike kind was, mag sy saam met haar pa van sy deel eet. Iemand wat nie uit Aäron se familie is nie, mag egter glad nie van die offers eet nie.

14. As iemand van die offers geëet het sonder om te weet dat dit offervleis is, moet hy dit vir die dienaar by die tent vergoed en 120% van die waarde daarvan vir hom teruggee.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 22