hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 5 Die Boodskap (DB)

Jerusalem kry baie swaar

1. Here, hou ’n bietjie in gedagte wat met ons gebeur het. Kyk hoe is ons beledig.

2. Die grond wat ons geërf het, het in vreemdelinge se hande beland. Uitlanders bly nou in ons huise.

3. Ons het geword soos kinders wat nie meer ’n pa het nie. Die ma’s het soos vroue geword wat nie meer ’n man het nie.

4. Ons moet betaal vir die drinkwater wat aan ons behoort. Ons moet vir ons eie brandhout geld uitgee.

5. Dié wat ons agtervolg, lê op ons nek. Hulle gee ons nie ’n oomblik se rus nie. Ons is stokflou.

6. Ons het by Egipte gaan aanklop om ons te help. Ons het selfs Assirië gesoebat om vir ons kos te gee sodat ons honger kan oorgaan.

7. Dit is ons voorouers wat die sonde gedoen het waarvoor ons moet betaal noudat hulle reeds lankal dood is.

8. Hulle wat ander mense se slawe was, is nou ons base. Daar is niemand wat ons van hulle kan bevry nie.

9. Wanneer ons kos in die veld gaan bymekaarmaak, loop ons die risiko dat ons doodgemaak kan word.

10. Ons is koorsig van die hongerte.

11. In Sion en in al die dorpe van Juda het hulle ons vroue en ons dogters verkrag.

12. Ons leiers word aan hulle hande opgehang. Daar is nie respek vir ons oumense nie.

13. Ons jongmans moet koring maal soos slawe. Jong seuntjies steier onder vragte hout wat vir hulle te swaar is.

14. Die leiers kan nie meer by die stad se poort sit om sake te bespreek nie. Die jongmense mag nie meer daar musiek maak nie.

15. Daar is nie meer vreugde oor in die lewe nie. Ons vrolike dans het in begrafnisliedere verander.

16. Ai tog, dit gaan sleg met ons. Ons het oortree en nou is alles weg waarop ons trots was.

17. Ons knieë het lam geword en ons oë het dof geraak

18. omdat Sion ’n verwoeste en verlate plek geword het waarin jakkalse rondsluip om te aas. Is U dan vir altyd kwaad?

19. U hou nooit op om te regeer nie, Here. U sit op u koningstroon en U regeer van een geslag tot die ander.

20. Hoekom lyk dit dan of U geheel en al van ons vergeet het? Hoekom is dit dan nou al so lank dat U ons aan ons eie lot oorgelaat het?

21. Lei ons weer terug na U toe sodat ons weer vrede met U kan maak. Maak alles tussen ons weer soos dit vroeër was.

22. Of het U ons nou vir altyd weggegooi? Gaan U regtig vir altyd vir ons kwaad bly?