hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 3 Die Boodskap (DB)

Ek weet wat dit is om seer te kry

1. Ek is die man wat ervaar het hoe seer dit is as die Here jou slaan omdat Hy vir jou kwaad is.

2. Hy het my weggejaag na ’n baie donker plek toe.

3. Hy het nie opgehou om my te slaan nie.

4. Hy het my skouers laat hang en my knieë laat knak.

5. Hy het my met swaarkry en lyding in ’n hoek vasgedruk.

6. Hy laat my voel asof ek wil doodgaan. Dis of ek al klaar dood is.

7. Hy het my toegesluit. Hy het my met swaar kettings geboei sodat ek nie kan uitkom nie.

8. Hy luister nie eens wanneer ek bid nie, al roep ek ook hoe hard.

9. Hy maak my paaie met groot klippe toe sodat ek langs ompaaie moet loop.

10. Hy is soos ’n beer wat my voorlê, ’n leeu wat my lê en inwag.

11. Hy het my uit die pad uit gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê.

12. Hy het die pyl in sy boog gespan. Hy het van my die teiken gemaak waarna Hy met sy pyle skiet.

13. Hy het sy pylkoker op my leeggemaak met al die pyle wat Hy op my afgeskiet het.

14. My volk lag vir my en maak aanmekaar spotliedjies oor my.

15. Hy laat my bitter dinge sluk tot ek nie meer kan nie. Hy maak dit galbitter vir my.

16. Hy het my in die grond in getrap. Ek het geval en my tande teen die klippe gebreek.

17. Ek het vergeet hoe dit is om gelukkig en tevrede te wees.

18. Al my vertroue is weg. Ek verwag niks meer van die Here nie.

Nogtans bly ek hoop

19. Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink.

20. My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink.

21. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry:

22. die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is.

23. ’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar.

24. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.”

25. Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop.

26. Dit is goed om geduldig te wag vir die Here om ons te red.

27. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag.

28. Iemand moet geduldig wees as daar van hom verwag word om stil te wees en te wag.

29. Daar is vir hom nog hoop as hy tjoepstil bly.

30. Hy moet maar sy trots sluk wanneer hulle hom beledig. Hy moet maar die ander wang ook na hulle toe draai.

31. Die Here sluit ’n mens mos nie vir altyd uit nie.

32. Hy maak ’n mens wel seer. Omdat sy liefde so groot is, kry Hy ons ook weer jammer.

33. Die Here verneder nie graag mense nie. Hy laat hulle ook nie verniet seerkry nie.

34. Die Here sien dit raak as gevangenes mishandel word.

35. Hy sien wanneer mense verontreg word, teen die wil van die Allerhoogste.

36. Hy kyk hoe mense in die hof onbillik behandel word.

37. Kan enigiemand iets laat gebeur as die Here nie daarmee instem nie?

38. Kom die slegte en die goeie dinge nie maar alles van God daar bo nie?

39. Waaroor sal ’n mens kla wanneer hy lewe al het hy verkeerd gedoen?

40. Kom ons gaan kyk hoe ons pad geloop het en dink ’n bietjie na oor wat ons gedoen het. Dan kan ons omdraai na die Here toe.

41. Laat ons ons hart en ons hande na die Here in die hemel uitsteek. Laat ons met alles wat ons het tot Hom bid:

42. “Here, U kan ons nie vergewe nie, want ons was hardkoppig en opstandig teenoor U.

43. “U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons sonder genade dood te maak.

44. U het agter die wolke ingegaan sodat nie een van ons gebede by U kon uitkom nie.

45. U het ons die ashoop van die wêreld gemaak waarop al die gemors gegooi word.

46. Al ons vyande beledig ons en sê van ons net wat hulle wil.

47. Ons is bang en vasgekeer. Ons is verwoes en eenkant gegooi.”

48. Ek huil lang trane omdat my volk in duie gestort het.

49. Ek sal aanhou huil, ek sal nie ophou nie

50. totdat die Here afkyk uit die hemel en my raaksien.

51. Ek is baie hartseer as ek sien wat met die dogters in Jerusalem gebeur het.

52. Mense wat sonder enige rede my vyande geword het, jaag my asof hulle ’n voël probeer vang.

53. Hulle het my in ’n waterput gegooi om my te laat verdrink. Hulle het dit met klippe toegepak.

54. Die water het oor my kop gegaan en ek het gedink: Nou is dit verby met my.

55. Daar onder in die put het ek na U begin roep, Here.

56. En U het gehoor toe ek roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.”

57. Die dag toe ek na U geroep het, het U vir my kom sê: “Hou nou op om bang te wees.”

58. U het soos ’n prokureur in die hof vir my saak geveg en my lewe gered.

59. Gee tog uitspraak in my guns, want U sien hoe hulle die wet verdraai om onreg aan my te doen.

60. U sien tog al die plannetjies wat hulle maak om my terug te kry.

61. U hoor watter planne hulle alles maak om my te beledig.

62. Hulle wat teen my gekant is, sit heeldag en sleg praat oor my.

63. Waar hulle ook al kom, sing hulle liedjies waarin hulle met my die spot dryf.

64. Betaal hulle terug, Here, vir elke ding wat hulle aan my gedoen het.

65. Laat hulle al slegter word en straf hulle dan daarvoor.

66. Sit hulle agterna met u woede en roei hulle heeltemal uit op die aarde.