hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 1 Die Boodskap (DB)

1. Ai tog! Hoe verlate is die stad waar mense mekaar eens vertrap het. Sy wat so belangrik was onder die nasies het nou soos ’n eensame weduwee geword. Sy wat die leier was, word nou verplig om vir hulle te werk.

2. Sy sit dwarsdeur die nag en huil met trane wat oor haar wange loop. Niemand van dié wat vroeër by haar gekuier het, wil haar nou kom troos nie. Almal wat eers haar vriende was, het teen haar gedraai. Hulle het haar vyande geword.

3. Juda is weggevat om te gaan swaarkry. Hulle woon tussen vreemde volke waar hulle nie tuis is nie. Die vyand het hulle agtervolg, hulle ingehaal en hulle in ’n hoek vasgekeer.

4. Omdat niemand meer na die feeste by die tempel kom nie, lê die paaie na Sion eensaam en verlate. Die priesters staan by die hek en sug omdat daar niemand meer oor is nie. Die jong vroue is hartseer omdat dit so swaar is om in Jerusalem te bly.

5. Jerusalem se vyande het gewen. Hulle leef nou baie rustig. Die Here laat die stad swaarkry oor die baie dinge wat sy verkeerd gedoen het. Haar vyande het haar kinders weggevat om in ’n ander land te gaan woon.

6. Sy was baie mooi, maar nou het die skoonheid van die dogter van Sion verdwyn. Haar leiers het soos takbokke geword wat nie ’n plek kry waar hulle kan wei nie. Hulle hardloop onrustig voor die jagters uit.

7. In hierdie tyd dat sy so swaarkry, dink Jerusalem terug aan hoe pragtig sy vroeër gelyk het. Maar daar was niemand om haar te help toe sy in die vyand se hand beland het nie. Die vyand het lekkergekry toe sy aan haar einde kom en vir haar gelag.

8. Almal staan die kop en skud oor Jerusalem wat soveel skande gemaak het. Sy is onaanvaarbaar vir God. Almal wat vroeër so baie van haar gedink het, het gesien hoe sy lyk as sy kaal is. Nou verag hulle haar. Sy het net ’n kreun gegee en in skaamte haar rug vir hulle gedraai.

9. Die skande wat sy oor haarself gebring het, klou aan haar lyf. Sy weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie. Sy het so diep geval dat niemand haar meer kan help nie. Sy roep: “Here, kyk hoe sleg gaan dit met my noudat die vyand my oorwin het!”

10. Die vyand het alles wat vir haar dierbaar was, by haar weggevat en vir hulleself gehou. Sy het selfs gesien hoe ander volke in die Here se huis ingaan. Die Here het vroeër sulke mense belet om tussen die mense van sy volk te kom.

11. Haar mense loop en kla terwyl hulle na kos soek om te eet. Hulle het alles wat vir hulle belangrik was, geruil vir kos. Hulle het alles gegee net om aan die lewe te bly. “Kyk tog mooi, Here. Almal verag my!”

12. Julle wat by die stad verbyloop, moet oplet. Kyk mooi. Is daar nog enigiemand anders wat soveel pyn het as ek? Die Here het hierdie seer oor my gebring die dag toe Hy so kwaad was vir my en my gestraf het.

13. Hy het ’n vuur van bo af gestuur wat my verteer het. Hy het ’n vangnet vir my gespan wat my laat terugsteier het. Hy het my eensaam en siek agtergelaat.

14. Die Here het met sy hand die dinge wat ek verkeerd gedoen het soos ’n tou inmekaar- gevleg. Hy het dit soos ’n juk op my nek gesit. Ek het nie genoeg krag om dit te dra nie. Die Here het my oorgegee aan mense teen wie ek nie sterk genoeg is om te veg nie.

15. Die Here het al die sterk mans wat ek gehad het, met minagting weggewys. Hy het ’n weermag bymekaargemaak om my jongmanne te verslaan. Die Here het Juda stukkend getrap. Dit was soos druiwe wat jy met jou voete in die parskuip stukkend trap.

16. Trane loop uit my oë. Ek huil oor alles wat gebeur het. Daar is niemand by my wat my kan troos en my beter kan laat voel nie. Die vyand was te sterk vir my. My kinders is weg. Die mense wat in my woon, is platgeslaan. Hulle het niks om na uit te sien nie.

17. Sion steek verniet haar hande uit dat iemand haar kan troos. Die Here het vir almal wat rondom Jakob woon, gesê om van nou af sy vyand te wees. Jerusalem het soos ’n melaatse geword van wie jy ver moet wegbly.

18. Die Here is reg. Ek was opstandig teen sy woord. Al julle volke moet luister wat ek sê. Gee aandag aan my hartseer. Al my dogters en my seuns is weggevat na ’n ander land toe.

19. Dié wat beloof het om my te help as daar moeilikheid kom, dié wat vir my lief was, het my in die steek gelaat toe ek hulle gevra het om my te help. Die mans wat vir die Here sy offers gebring het en die oumense wat in die stad gebly het, is nou almal dood. Hulle het kos gesoek om aan die lewe te bly.

20. Here, kyk hoe bang is ek. My hart krimp inmekaar. Ek was so vreeslik opstandig. Die swaard maai alles op die strate af. Binne-in die huise is dit soos die dood.

21. Hoor tog hoe kreun ek omdat niemand by my staan nie. My vyande hoor wat U met my laat gebeur het. Hulle is baie bly daaroor. Laat tog die dag kom wat U beloof het. Laat dit met hulle gaan soos dit nou met my gaan.

22. Kyk na al die kwaad wat hulle gedoen het. Straf hulle daarvoor soos U my gestraf het vir alles wat ek verkeerd gedoen het. Ek sug aanmekaar. My hart is swaar binne-in my.