Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:3-12 Die Boodskap (DB)

3. Josua het hom toe gereedgemaak om Ai aan te val. Hy het 30 000 van sy beste soldate uitgekies en hulle in die nag na die stad toe gestuur

4. met die volgende opdrag: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg, nie te ver van die stad af nie, en wees reg om aan te val.

5. Ek en die ander soldate wat by my is, sal ’n skynaanval op die stad loods. Wanneer Ai se soldate op ons afkom, sal ons omdraai en net soos die vorige keer vir hulle vlug.

6. Natuurlik sal hulle ons agternasit en dan sal ons hulle weglok totdat hulle van die stad afgesny is. Hulle sal dink ons vlug vir hulle, net soos die vorige keer.

7. Dan moet julle uit julle wegkruipplekke kom en die stad inneem. Die Here julle God sal sorg dat julle die stad inneem.

8. As julle dit gedoen het, moet julle dit aan die brand steek. Dit is ’n bevel van die Here!”

9. Hulle is toe na hulle wegkruipplek toe, wes van Ai, tussen Ai en Bet-El. Daar het hulle gaan wag. Josua het die nag in die kamp deurgebring.

10. Die volgende môre vroeg het Josua die soldate bymekaargeroep en hulle reggekry vir die geveg. Hy en die leiers van die volk het toe die soldate na Ai toe gelei.

11. Die soldate wat by hom was, het opgetrek en regoor die ingang van die stad stelling ingeneem, aan die noordekant. Die laagte was tussen hulle en die stad.

12. Daardie nag het hy omtrent 5 000 soldate gevat en hulle aan die westekant van die stad tussen Ai en Bet-El laat wegkruip.

Lees volledige hoofstuk Josua 8