Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 13:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Teen dié tyd was Josua al baie oud. Daarom het die Here vir hom gesê: “Jy is nou al baie oud, maar daar is nog ’n groot deel van die land wat ingeneem moet word:

2. die hele grondgebied van die Filistyne en die Gesuriete.

3. Ook die deel van hierdie gebied wat aan die Kanaäniete behoort. Dit is die gebied wat strek van die Sigorrivier af aan die oosgrens van Egipte en noordwaarts tot by die grens met Ekron. Dit sluit in die vyf Filistynse dorpe Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, asook die gebied van die Awwiete in die suide.

4. Die res van die Kanaäniete se gebied moet ook nog ingeneem word, insluitend Meara wat aan die Sidoniërs behoort en verder noordwaarts tot by Afek aan die Amoritiese grens;

5. die gebied van die Gebaliete; asook die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad suid van die Hermonberg af tot by Lemo-Hamat.

6-7. Dit sluit ook die hoër bergagtige gebiede van die Libanon af tot by Misrefot-Majim in. Ek sal al hierdie mense uit hulle gebiede wegdryf sodat die Israeliete daar kan gaan bly. Wat jy moet doen, is om te sorg dat die hele land onder die halwe Manassestam en die ander nege oorblywende stamme verdeel word volgens my opdrag aan jou.

8. Moses die Here se dienaar het reeds vir die stamme van Ruben, Gad en die ander helfte van die Manassestam hulle deel van die land aan die oostekant van die Jordaan gegee.

9. Hulle gebied het gestrek vanaf Aroër die stad in die middel van die vallei op die oewer van die Arnonrivier en het ook die platorand van Medeba af tot by Dibon ingesluit.

Lees volledige hoofstuk Josua 13