hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Jona 3 Die Boodskap (DB)

God stuur weer vir Jona

1. Die Here het weer ’n keer vir Jona geroep. Hy het weer vir Jona gesê:

2. “Gaan gee my boodskap vir die groot stad Nineve. Sê vir hulle van my besluit waaroor Ek en jy laas keer gepraat het.”

3. Hierdie keer het Jona geluister. Hy het na Nineve toe gegaan. Nineve was ’n geweldige groot stad. Dit het drie dae gevat om van een kant tot die ander kant deur die stad te loop.

4. Toe Jona ’n dag ver in die stad in was, het hy die Here se boodskap vir hulle gegee. Hy het vir hulle gesê wat die Here besluit het. Hy het gesê: “Daar is nog 40 dae oor voordat die Here Nineve gaan verwoes!”

Die reaksie van die inwoners

5. Die inwoners van Nineve het hierdie boodskap geglo. Hulle het besluit dat almal hulle voor God moet verootmoedig en niks moet eet nie. Van die belangrikste mense tot die eenvoudigstes het begrafnisklere aangetrek om vir God te wys hoe spyt hulle was oor alles wat hulle verkeerd gedoen het.

6. Toe die koning van Nineve van God se besluit hoor, het hy van sy troon afgeklim. Hy het sy koningsklere uitgetrek en ook begrafnisklere aangetrek. Hy het by die ashoop gaan sit. Hy het as oor homself gestrooi om te wys hoe jammer hy was oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.

7. Hy het ’n amptelike afkondiging in Nineve laat maak: “Op las van die koning en sy kabinet: Geen mens of bees of vee in Nineve mag enigiets eet of drink nie.

8. Al die mense en elke dier moet klere aanhê vir ’n begrafnis. Elkeen moet baie ernstig tot die Here bid. Almal moet die verkeerde dinge wat hulle doen, laat staan. Die geweld teenoor mekaar moet dadelik stopgesit word.

9. Wie weet of God nie miskien weer ’n keer oor sy besluit sal dink nie. Miskien sal Hy ons jammer kry en ophou om vir ons kwaad te wees. Miskien sal Hy nie ons stad verwoes nie.”

God kry hulle jammer

10. God het gesien wat hulle doen. Hy het gesien hoe hulle probeer ophou met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hy het spyt gekry oor sy besluit. Hy het van plan verander en die stad toe nie verwoes nie.