hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 3 Die Boodskap (DB)

God oordeel

1-2. In daardie tyd sal Ek baie goed wees vir al my mense in Juda en Jerusalem, sê die Here. Maar Ek sal al die ongelowige volke in die vallei van Josafat bymekaarmaak. Daar sal Ek hulle terugkry omdat hulle my volk, Israel, uit hulle eie land verdryf het en my land vir hulleself gevat het.

3. Daardie slegte spul het mos lootjies getrek om te sien wie van hulle my volk sou kry om as slawe vir hulle te kom werk. Hulle het jong seuns en dogters as slawe verkoop om prostitute en drank in die hande te kry.

4. En julle, Tirus en Sidon, en al die woonplekke van die Filistyne, wat probeer julle aan My doen? Dink julle miskien dat julle My kan terugkry oor iets wat Ek gedoen het? Wel, dan wag daar ’n groot verrassing op julle! Pas op, want voor julle julle oë kan uitvee, gaan Ek julle onderstebo loop. Ek sal al julle slegte planne teen julle gebruik!

5. Julle het al die silwer en goud en kosbare skatte wat aan My behoort, weggevat en in julle heidense tempels gaan sit.

6. Julle het die mense van Juda en Jerusalem ver uit hulle land weggevat en hulle aan die Grieke verkoop.

7. Maar Ek sal hulle laat terugkom van al daardie plekke af waarheen julle hulle as slawe verkoop het. En dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen as wat julle met hulle gedoen het.

8. Ek sal julle seuns en dogters aan die mense van Juda verkoop. Hulle sal julle kinders weer aan die mense van Skeba verkoop, wat ver van hier af bly. Dit beloof Ek, die Here!

9. Gee die volgende boodskap vir al die volke wat nie in My glo nie: Maak julle reg vir oorlog! Roep al julle dapper manne. Kry julle soldate gereed om aan te val!

10. Verander julle ploeë in swaarde en julle snoeiskêre in spiese. Selfs die swakstes onder julle moet opgelei word om soos dapper soldate te veg.

11. Julle moet gou maak. Maak al die volke uit die omgewing bymekaar en bring hulle af na die vallei toe. En nou, Here, stuur u magtige leër om al daardie mense aan te val!

12. Ek, die Here, sê: Al die ongelowige volke moet hulle soldate bymekaarmaak en aftrek na die vallei van Josafat toe. Daar sal Ek as Regter optree om hulle almal te straf.

13. Hulle sondes is so verskriklik. Hulle moet afgesny word soos ryp koring met ’n sekel afgesny word. Hulle moet fyngetrap word soos ’n mens druiwe in ’n parskuip trap totdat die wyn oor al die kante stroom.

14. Hordes mense wag nou daar op die plek waar die Here se vyande bymekaar is. Binnekort sal die groot dag van die Here aanbreek wanneer Hy eens en vir altyd met hulle sal afreken.

15. Die son en die maan sal pikdonker word en die sterre sal ophou skyn.

16. Dan sal die Here se stem soos die gebrul van ’n leeu uit Sion opklink. Sy magtige stem daar uit Jerusalem sal die hemel en aarde van vrees laat bewe. Maar vir sy eie mense sal die Here soos ’n wegkruipplek wees waar hulle veilig is teen gevaar. Die Here sal vir hulle wees soos ’n stad met hoë, breë mure wat hulle beskerm teen al hulle vyande.

God oorlaai sy volk met goedheid

17. In daardie tyd sal julle besef dat Ek, die Here julle God, daar van my berg Sion af heers. Dan sal Jerusalem se mense volledig aan My behoort en doen wat Ek sê. Geen volk wat My verwerp, sal dit ooit weer inneem nie.

18. In daardie tyd sal die berge vol wingerde wees en daar sal beeste op al die heuwels loop. Al die stroompies in Juda sal vol water wees. In die Here se woonplek sal daar ’n fontein opborrel. Die water sal van daar af afloop na die droë vallei van Sittim toe wat te min water het.

19. Egipte sal dan ’n droë wildernis word en Edom ’n verlate woestyn, want hulle het Juda se inwoners aangeval en onskuldige mense doodgemaak.

20. Maar Juda en Jerusalem sal altyd vol mense wees.

21. Ek sal al my mense se sondes vergewe. Selfs daardie sondes wat Ek nou nog teen hulle hou, sal Ek afskryf en nie weer daaraan dink nie. In daardie tyd sal Ek, die Here, op Sion bly en my krag van daar af bekendmaak.