hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42

Ou Testament

Nuwe Testament

Job 41 Die Boodskap (DB)

1. “As niemand dit sal waag om die draak te pak nie, wie kan dan enigsins dink om My aan te vat?

2. Wie wil My uitdaag en eise aan My stel? Alles op die aarde behoort aan My.

3. “Ek wil nog verder praat oor die krag in die draak se bene en sy hele lyf.

4. Wie kan deur sy dik, skubberige vel sny en wie kan sy vel aftrek?

5. Wie kan sy kake ooptrek? Sy tande is iets vreesliks.

6. Sy skubbe op sy rug lê styf teen mekaar en beskerm hom soos ’n skild.

7. Hulle is so dig op mekaar dat lig nie eers tussenin kan kom nie.

8. Die skubbe sluit so dig teen mekaar dat niks tussen hulle kan inkom nie. Hulle kan nie van mekaar losgemaak word nie.

9. “As hy nies, sien ’n mens net vonke. Sy oë is so rooi soos die son wat in die oggend opkom.

10. Vlamme en vonke kom by sy mond uit.

11. By sy neus borrel rook uit. Dit lyk amper soos stoom wat by ’n pot uitborrel wat op ’n vuur staan.

12. Sy asem is so warm dat dit kole kan laat gloei, want vlamme kom by sy mond uit.

13. “Die geweldige krag in sy nek maak mense oral waar hy gaan verskriklik bang.

14. Sy vleis is hard en sit baie styf aan hom vas asof dit gegiet is.

15. Sy hart is so hard soos ’n klip. Dit is so hard soos ’n maalklip.

16. As hy opstaan, vlug selfs die gode. Hulle is bang hy verpletter hulle met sy stert.

17. Daar is geen skerp wapen wat die draak in sy spore kan laat vassteek nie.

18. Hy dink niks van yster nie, hy maak asof dit ’n stukkie strooi is. Hy maak met koper of dit ’n stuk verrotte hout is.

19. Hy vlug nie as mense hom met pyle skiet nie. ’n Klip wat hom tref, maak net so min indruk op hom as ’n stukkie strooi.

20. Jy kan hom maar met ’n kierie slaan, dit maak hom net mooi niks nie. Hy lag met minagting as hulle hom met spiese gooi.

21. Die skubbe op sy maag is so skerp soos potskerwe. Hulle skeur die grond oop as hy homself deur die modder sleep.

22. “As hy in die water rondspartel, lyk dit soos water wat in ’n pot kook. Die water van die meer skuim en borrel soos kokende olie.

23. Hy los ’n blink streep agter hom op die water. Dit lyk amper of die see wit geword het van al die skuim.

24. Daar is op aarde nie nog so ’n dier soos hy wat geen vrees ken nie.

25. Hy dink absoluut niks van die ander diere nie, nie eers dié wat groter is as hy nie. Hy het geen respek vir hulle nie. Hy is die koning van al die diere.”