Ou Testament

Nuwe Testament

Job 38:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Ek het die see met donker wolke toegemaak.

10. Ek het besluit hoe ver die see kon spoel. Ek het die strande gegee om die see op sy plek te hou.

11. Ek het gesê: ‘Jy mag net tot hier kom en nie verder gaan nie. Hier moet jou skuimende golwe stop!’

12. “Job, het jy al ooit vir die oggend gesê om te begin en die dag laat verstaan wanneer om te breek?

13. Die daglig versprei tot by die verste dele van die aarde. Die lig wat oral skyn, maak dit onmoontlik vir die misdadigers om weg te kruip. Die lig skud hulle uit hulle wegkruipplekke uit.

14. As die dag breek, sien ’n mens eers net die vorm van die berge en die valleie op die aarde. Dit lyk soos ’n vorm wat in klei afgedruk is of die voue van ’n stuk klere.

15. Die lig maak dit vir die misdadigers moeilik om mense te pla. Dit keer hulle om met hulle geweld voort te gaan.

16. “Job, het jy al gaan kyk na die bronne waaruit die see borrel? Het jy al diep in die see op die bodem rondgeloop?

17. Het iemand al vir jou gewys waar die hekke van die dood is? Het jy die ingang na die doderyk gesien?

18. Het jy enigsins ’n idee hoe groot die aarde is? Sê vir My as jy dit alles weet!

19. “Weet jy waar die lig vandaan kom? Ken jy die blyplek van die donker?

Lees volledige hoofstuk Job 38