Ou Testament

Nuwe Testament

Job 38:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het toe met Job uit ’n stormwind gepraat en gesê:

2. “Wie is dit wat met dom vrae my besluite in twyfel trek?

3. Maak jou reg vir ’n sarsie vrae wat in jou rigting kom wat jy moet antwoord.

4. “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? As jy so danig baie weet, sê My!

5. Wie het besluit hoe groot die aarde moet wees? Toe, jy weet dit tog seker, nie waar nie? Wie het die aarde afgemeet?

6. Waarop is die voetstukke van die aarde neergesit? Wie het die hoeksteen gelê?

7. Die môresterre het saamgesing en al die hemelse inwoners het van blydskap geskreeu toe dit gebeur het.

8. Wie het vir die see grense gemaak toe dit onstuimig begin uitborrel het?

9. Ek het die see met donker wolke toegemaak.

10. Ek het besluit hoe ver die see kon spoel. Ek het die strande gegee om die see op sy plek te hou.

11. Ek het gesê: ‘Jy mag net tot hier kom en nie verder gaan nie. Hier moet jou skuimende golwe stop!’

12. “Job, het jy al ooit vir die oggend gesê om te begin en die dag laat verstaan wanneer om te breek?

13. Die daglig versprei tot by die verste dele van die aarde. Die lig wat oral skyn, maak dit onmoontlik vir die misdadigers om weg te kruip. Die lig skud hulle uit hulle wegkruipplekke uit.

14. As die dag breek, sien ’n mens eers net die vorm van die berge en die valleie op die aarde. Dit lyk soos ’n vorm wat in klei afgedruk is of die voue van ’n stuk klere.

15. Die lig maak dit vir die misdadigers moeilik om mense te pla. Dit keer hulle om met hulle geweld voort te gaan.

16. “Job, het jy al gaan kyk na die bronne waaruit die see borrel? Het jy al diep in die see op die bodem rondgeloop?

Lees volledige hoofstuk Job 38