hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42

Ou Testament

Nuwe Testament

Job 37 Die Boodskap (DB)

1. Elihu het gesê: “So ’n storm maak my bang. Dit laat my hart wild klop.

2. Hoor hoe dreun die donderweer. Dit is God se stem wat aangerol kom.

3. Hy laat die dreuning oor die hemel klink. Dit lyk of die weerlig oor die hele aarde slaan, selfs tot in die verste uithoeke.

4. Daarna kan ’n mens die gedreun van die weer hoor as God sy magtige stem gebruik. Sy stem dreun oorverdowend hard.

5. As God in die donderweer praat, is dit ongelooflik. Wonderlike goed gebeur wat ons nie eens kan dink om te verstaan nie.

6. Hy gee die sneeu opdrag om op die aarde te val. Hy laat ook die reën hard neerstort.

7. Wanneer dit gebeur, laat Hy al die mense ophou werk sodat hulle net weer kan besef wat Hy alles doen.

8. Ook die diere kruip in hulle skuilplekke weg.

9. Die stormwind begin waai en die wind uit die noorde bring die koue.

10. God se asem laat die water ys. Groot panne water vries toe.

11. Die wolke bult uit van al die vog wat dit hou. Hy laat weerlig tussen die wolke deur flits.

12. Hy laat die wolke rondmaal soos Hy wil. Oor die hele wêreld doen die wolke presies wat Hy hulle sê om te doen.

13. Soms stuur die Here die storms en die reën om die mense te straf. Ander kere om te sorg dat daar water op die aarde is of doodgewoon om te wys dat Hy die aarde en sy mense liefhet.”

14. Elihu het vir Job gesê: “As jy nou geluister het na wat ek gesê het, word net ’n bietjie rustig. Dink daaraan hoe ongelooflik alles is wat God doen.

15. Kan jy verstaan hoe God die wolke beheer en die weerlig uit die wolke laat blits?

16. Kan jy verstaan hoe Hy dit regkry om die wolke so in die lug te laat hang? Dit is die werk van ’n genie!

17. As die wind uit die suide ophou waai, is alles doodstil. Dan kry die mense swaar van die vreeslike hitte, maar hulle kan niks daaraan doen nie.

18. Kan jy soos God die hemel oopspan? Hy laat die hemelruim die hitte soos ’n groot spieël weerkaats.

19. “Job, sê vir ons wat ons vir die Here moet sê. Ons is te dom om ons eie argumente uit te dink.

20. Moet ek eers vir God sê dat ek my saak wil stel? Moet ’n mens praat as jy so deurmekaar is?

21. Die wind het die wolke voor die son weggewaai. Nou skyn die son helder, maar dit is te skerp vir ’n mens om in te kyk.

22. God kom uit die noorde in ’n goue glans. Sy glans is so groot, dit maak ’n mens eintlik bang.

23. God se mag is te groot vir ons om te verstaan. Sy mag is baie groot, maar tog bly Hy regverdig. Hy is baie eerlik en Hy is teenoor niemand onregverdig nie.

24. Dit is daarom dat mense Hom oral eer en respekteer. Maar Hy hou nie van mense wat hulle slim hou nie.”