Ou Testament

Nuwe Testament

Job 34:10-26 Die Boodskap (DB)

10. Elihu het verder gegaan en gesê: “Almal van julle wat verstandig is, luister na my. Julle weet, God doen nooit slegte en verkeerde dinge nie.

11. Hy betaal elkeen volgens wat hy gedoen het. Jy sal kry wat jy verdien.

12. Wat waar is, is dit: God doen nie verkeerd nie. Hy is ook nie onregverdig nie.

13. Die Here het die sê oor wat in hierdie wêreld aangaan. Die hele wêreld is in sy mag.

14. As die Here sy Gees en die lewe wat Hy gegee het, sou wegvat,

15. sal alle mense daar en dan doodgaan. Mense sal net weer stof word.

16. “As jy verstandig is, sal jy luister wat ek te sê het.

17. Sou God kon regeer as Hy regverdigheid haat? Wil jy probeer bewys dat God wat regverdig en magtig is, skuldig is?

18. Hy sê vir ’n koning dat hy niks werd is nie en vir regeringsleiers dat hulle sleg is.

19. Hy trek nie belangrike mense voor nie. Hy gee ook nie meer aandag aan die rykes as aan die armes nie. Hy het hulle almal gemaak.

20. Enigeen kan skielik in die nag doodgaan. As God net aan hulle raak, gaan hulle dood. Mense wat mag het, verdwyn van die toneel sonder dat enigiemand iets daarmee te doen het.

21. “Die Here kyk hoe mense leef. Hy sien ook alles wat hulle doen.

22. Mense wat slegte dinge doen, moenie dink dat daar iewers ’n plek is wat donker genoeg is om weg te kruip nie.

23. Dit is nie nodig dat mense eers voor Hom moet verskyn voordat Hy kan besluit wat om met hulle te doen nie.

24. Hy hoef nie eens te gaan kyk wat hierdie magtige leiers aangevang het voordat Hy hulle vernietig en ander in hulle plek aanstel nie.

25. Hy weet presies wat hulle doen. Hy stoot hulle sommer oornag van hulle troontjies af en vernietig hulle.

26. Hy straf hulle oop en bloot waar almal kan sien wat hulle verkeerd gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Job 34