Ou Testament

Nuwe Testament

Job 31:13-27 Die Boodskap (DB)

13. “Ek het nog altyd my werkers reg behandel. As hulle met ’n klagte of ’n probleem na my toe gekom het, het ek geluister.

14. Ek sou mos nie by God daarmee verby kon kom as ek dit nie gedoen het nie. Hoe sou ek myself by Hom kon verdedig as Hy my daaroor sou uitvra en ek skuldig was?

15. God het mos vir my en my werkers gemaak. Een en dieselfde God het ons almal gemaak.

16. “Was ek ooit onwillig om arm mense te help? Het ek ooit weduwees teleurgestel wat wou hê dat ek hulle moes help?

17. Sê my ’n bietjie, was ek ooit suinig met kos vir die honger weeskinders? Wou ek dit miskien nie met hulle deel nie?

18. Nee, glad nie! Vandat ek nog sommer baie jonk was, het weeskinders en weduwees my na aan die hart gelê. Ek het nog altyd vir hulle gesorg.

19. As ek iemand gesien het wat nie ’n plek gehad het om teen die wind en weer te skuil nie of nie klere gehad het nie, het ek gehelp.

20. Ja, hulle kon nie uitgepraat raak omdat ek vir hulle wolklere gegee het nie.

21. As ek ooit ’n weeskind uitgebuit het om my te help om ’n hofsaak te wen,

22. mag my skouers losskeur en my arms dan afval.

23. Ek sou nooit so iets gedoen het nie, want ek is bitter bang vir God se straf. Teen God se grootheid het ek geen kans nie.

24. “Ek het nooit my vertroue op geld of goud gesit nie.

25. Ek was ook nie ’n gelukkige en vrolike mens omdat ek ryk was en baie goed gehad het nie.

26. Het ek ooit na die son gekyk wat helder skyn of na die maan wat so mooi is en in die hemel beweeg

27. en my laat verlei om hulle te aanbid?

Lees volledige hoofstuk Job 31