Ou Testament

Nuwe Testament

Job 30:14-29 Die Boodskap (DB)

14. Hulle breek deur mure en storm deur die rommel op my af.

15. Ek leef in vrees en bewing. Ek het geen waardigheid meer oor nie, dit het soos wind verdwyn. Dit het op alle gebiede met my baie goed gegaan, maar dit het verdwyn soos ’n wolk wat verbygaan.

16. “Nou is my hart stukkend. Ek huil baie. Ek voel elke dag hoe ek in ’n diep ellende wegsak.

17. In die nag het ek baie pyn in my bene. Dit voel of iets aanhoudend aan my bene kou en net nie ophou nie.

18. Met sy groot krag het God my aan my klere gegryp. Dit het gevoel of my kraag my wil verwurg.

19. Hy het my in die modder gegooi. Ek was van kop tot tone vol modder en as.”

20. Job het vir die Here gesê: “Here, ek roep na U dat U my moet help, maar U wil nie luister nie. Ek staan voor U, maar U steur U nie aan my nie.

21. U is eintlik baie wreed met my. U val my met mening aan.

22. U laat die wind my optel en die storm my ruk en pluk.

23. Ek weet U wil hê ek moet doodgaan. Dit is tog waarheen alle mense op pad is.

24. “’n Mens sal mos nie die rug draai vir iemand wat in die nood is en om hulp roep nie.

25. Ek het mos gehuil oor mense wat deur swaar tye gegaan het. Ek was ook baie ontsteld omdat die arm mense so swaarkry.

26. Daarom het ek gedink dat dit met my goed sal gaan, maar slegte dinge het met my gebeur. Ek het lig verwag, maar donkerte het op my neergesak.

27. Ek is baie ontsteld. Ek voel heeltyd onrustig. Elke dag is ’n dag van swaarkry.

28. My lewe is donker, dit is nie sonskyn nie. Ek staan oop en bloot voor mense en roep uit dat iemand my tog moet help.

29. Maar my geroep is nie veel meer werd as die gehuil van ’n jakkals of ’n volstruis nie.

Lees volledige hoofstuk Job 30