Ou Testament

Nuwe Testament

Job 28:12-23 Die Boodskap (DB)

12. “Maar waar kan ’n mens wysheid kry? Waar kom iets soos ‘om te kan verstaan’ vandaan?

13. Niemand weet wat wysheid eintlik werd is nie. ’n Mens kry dit net nie onder die mense op hierdie aarde nie.

14. Selfs die diep waters en die see sê: ‘Die wysheid is nie hier by ons nie.’

15. “’n Mens kan nie met goud vir wysheid betaal nie en met geld kan jy dit nie koop nie.

16. Die waarde van wysheid kan nie eers vergelyk word met die fynste goud of kosbaarste diamante of saffiere nie.

17. Goud en glans kan nie met die wysheid vergelyk word nie. Dit kan nie eers vir goue juwele verruil word nie.

18. Koraal of kristal kan nie eers in dieselfde asem as wysheid genoem word nie. Dit is baie meer werd as pêrels.

19. Selfs nie topaas wat uit Etiopië kom, kan daarmee vergelyk word nie. Dit is onmoontlik om die waarde van wysheid met suiwer goud te probeer bepaal.

20. “Nou waar kom wysheid vandaan? Wat is die oorsprong van ‘verstaan’?

21. Dit is weggesteek vir die mense van die aarde. Hulle kan dit net nie sien nie. Dit is selfs vir die voëls in die lug weggesteek.

22. Ook die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het maar net ’n gerug daarvan gehoor.’

23. “Net God weet hoe ’n mens daarby kan uitkom en dit in die hande kan kry.

Lees volledige hoofstuk Job 28