hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42

Ou Testament

Nuwe Testament

Job 24 Die Boodskap (DB)

Hoekom straf God nie slegte mense nie?

1. “Hoekom sê die Here nie presies wanneer dit tyd gaan wees om met mense af te reken nie? Want selfs die mense wat Hom ken, weet nie wanneer dit gaan gebeur nie.

2. Hierdie slegte mense vat ander mense se grond deur die landmerke te verskuif. Hulle steel ander se vee en laat hulle tussen hulle eie vee wei.

3. Hulle vat sommer ’n weeskind se donkie af. Of hulle vat ’n weduwee se bees as waarborg vir die geld wat sy hulle skuld.

4. Hulle sal ’n arm mens soos niks uit die pad stamp. Party van die mense met wie dit ellendig gaan, sien dit is beter om liewer weg te kruip.

5. Die armes moet soos wilde donkies in die woestyn loop en soek vir kos. Hulle moet hard werk om vir hulle kinders iets in die woestyn te ete te kry.

6. Hulle tel koringare op ander mense se lande op wat reeds afgeoes is. Hulle pluk druiwe van ’n slegte mens se wingerd wat daar agtergebly het nadat die druiwe reeds afgeoes is.

7. In die nag lê hulle sonder klere aan en slaap in die koue. Hulle het niks om hulle mee toe te maak nie.

8. As dit in die berge reën, word hulle sopnat. Hulle klou aan die rotse vas, want daar is nie ander skuiling vir hulle nie.

9. “Daar is misdadigers wat ’n weduwee se suigelingbaba steel. Party ryk mense sal arm mense se kind vat omdat hulle in die skuld is by hulle.

10. Hierdie arm mense moet dan sonder klere loop en werk op die lande en dit terwyl hulle honger is.

11. Hulle moet olie van olywe maak en druiwe trap by die wynpers. Intussen is hulle dood van die dors.

12. ’n Mens kan die gekreun van mense in die stede hoor. Daar is ook mense wat gewond is wat roep dat iemand hulle moet kom help. Maar die Here steur Hom nie aan hierdie mense se gebede nie.”

13. Job het verder gesê: “Daar is mense wat niks van die lig hou nie. Hulle wil nie doen wat in die lig aanvaarbaar is nie. Hulle doen oneerlike dinge in die geheim.

14. Die moordenaar gaan net voor dagbreek uit en maak arm en behoeftige mense dood. In die nag steel hy.

15. Die egbreker wag dat dit skemer moet word, want hy sê: ‘Niemand sal my dan sien nie.’ Hy maak ook sy gesig toe sodat niemand hom sal herken nie.

16. In die nag breek hulle by huise in en in die dag kruip hulle weg. Hulle is nie vriende van die lig nie.

17. Hulle voel baie gemaklik in die donker. Dit is vir hulle soos oggend. Hulle ken die gevare van die nag, maar dit pla hulle nie.

18. “Hierdie slegte mense sal baie vinnig verdwyn. Dit sal wees asof hulle vinnig deur water weggespoel is. Hulle grond is verwens, dit sal nie vir hulle geluk bring nie. Niemand sal naby hulle wingerde wil kom nie.

19. Die doderyk ruk so ’n slegte mens weg net soos droogte en hitte sneeu laat smelt.

20. Selfs sy eie ma sal van hom vergeet. Die wurms sal hom eet. Niemand sal hom eens meer onthou nie. So ’n slegte mens word soos ’n boom gebreek.

21. Hy teer op vroue wat nie kinders kan hê nie. Hy is ook nie goed vir die weduwees nie.

22. “Maar die Here is baie sterk. Hy raak ontslae van die vername mense. Hulle dink dalk dat hulle uitgestyg het, maar hulle lewe is nie seker nie.

23. Die Here kan hulle miskien laat voel dat hulle veilig is, maar Hy hou fyn dop hoe hulle lewe.

24. Hulle is nou vir ’n rukkie op die kruin van die golf. Belangrike mense! Maar in ’n oogwink kan dit verby wees met hulle. Dan kom hulle hard af aarde toe en gaan net soos ander mense dood. Hulle word soos koring afgesny.

25. Is daar iemand wat kan bewys dat dit nie so is nie? Wie kan bewys dat ek ’n leuenaar is? Wie gaan my woorde weerlê?”