Ou Testament

Nuwe Testament

Job 19:13-26 Die Boodskap (DB)

13. “Die Here het my broers van my af weggedryf en my vriende vreemdelinge vir my gemaak.

14. My familie en bekendes het my in die steek gelaat en van my vergeet.

15. My huismense en my vroulike werkers maak of ek ’n vreemdeling is. Hulle maak of ek nie daar hoort nie.

16. Ek roep my werker, maar hy ignoreer my. Ek smeek, maar dit help nie.

17. My vrou kan my slegte asem nie uitstaan nie. My broers kan my nie verdra nie. Hulle walg hulle vir my.

18. Selfs klein kindertjies dink niks van my nie. As ek probeer opstaan, spot hulle met my.

19. My beste vriende kan my nie verdra nie. Selfs van die mense wat ek die meeste liefhet, het teen my gedraai.

20. Ek is nou net vel en been. Ek leef amper nie eers meer nie.”

21. Job het gepleit: “Julle is my vriende, wees net ’n bietjie geduldig met my. Moenie kras met my werk nie. Die Here het my hard geslaan.

22. Hoekom vervolg julle my nou net soos God maak? Waarom los julle my nie liewer uit nie?

23. “Ag, hoe wens ek dat alles wat ek sê in ’n boek opgeskryf kan word.

24. Ek wens dat my woorde met ’n ysterbeitel in klip uitgekap en met lood opgevul kan word.”

25. Job het gesê: “Ek weet dat Hy wat my kan verlos, lewe. Uiteindelik sal Hy op die aarde kom staan.

26. Selfs al is my liggaam besig om agteruit te gaan, weet ek dat ek eendag die Here sal sien.

Lees volledige hoofstuk Job 19