Ou Testament

Nuwe Testament

Job 19:10-22 Die Boodskap (DB)

10. Waar Hy kon, het Hy my afgetakel. Dit is klaar met my! Alle hoop wat ek gehad het, het Hy doodgemaak.

11. Die Here is woedend kwaad vir my. Hy maak asof ek sy vyand is.

12. Die lyding wat ek deurmaak, is soos ’n oorlog teen my. Die Here stuur die probleme soos soldate teen my. Hulle grawe hulle in teen my en omsingel my.

13. “Die Here het my broers van my af weggedryf en my vriende vreemdelinge vir my gemaak.

14. My familie en bekendes het my in die steek gelaat en van my vergeet.

15. My huismense en my vroulike werkers maak of ek ’n vreemdeling is. Hulle maak of ek nie daar hoort nie.

16. Ek roep my werker, maar hy ignoreer my. Ek smeek, maar dit help nie.

17. My vrou kan my slegte asem nie uitstaan nie. My broers kan my nie verdra nie. Hulle walg hulle vir my.

18. Selfs klein kindertjies dink niks van my nie. As ek probeer opstaan, spot hulle met my.

19. My beste vriende kan my nie verdra nie. Selfs van die mense wat ek die meeste liefhet, het teen my gedraai.

20. Ek is nou net vel en been. Ek leef amper nie eers meer nie.”

21. Job het gepleit: “Julle is my vriende, wees net ’n bietjie geduldig met my. Moenie kras met my werk nie. Die Here het my hard geslaan.

22. Hoekom vervolg julle my nou net soos God maak? Waarom los julle my nie liewer uit nie?

Lees volledige hoofstuk Job 19