Ou Testament

Nuwe Testament

Job 15:21-34 Die Boodskap (DB)

21. Hulle leef in spanning, want hulle hoor van al die slegte dinge wat om hulle gebeur. Net as hulle dink dat dit nou rustig en goed gaan, oorval ’n aanvaller hulle.

22. Hulle is bang om in die donker uit te gaan, want hulle glo dat hulle nie sal terugkom nie. Hulle verwag dat iemand hulle gaan vermoor.

23. Hulle gaan rond op soek na kos en vra waar hulle dit gaan kry. Eintlik weet hulle dat daar moeilike tye vir hulle voorlê.

24. Die gedagte aan moeilike tye maak hulle baie bang. Hulle lewe doodbang en in angs. Dit is soos ’n koning se spanning net voor hy ’n vyand begin aanval.

25. Dit gaan met hulle so omdat hulle vir God die vuis gewys het. Hulle het teen die Here, wat ontsettend sterk is, in opstand gekom.

26. Hulle is soos mense wat uitdagend op God afstorm met ’n skild om hulle te beskerm.

27. “Hierdie opstandige mense is vet en voorspoedig.

28. Maar hulle stede gaan verwoes word. Hulle gaan in huise bly waarin niemand anders meer wil bly nie. Hierdie huise gaan vernietig word.

29. Hulle sal nie ryk bly nie. Hulle geld sal nie hou nie. Hulle sal ook nie meer oral in die land besittings hê nie.

30. “Donker tye lê vir hulle en wag. Hulle sal nie wegkom nie. Soos ’n vuur ’n boom verteer, sal die Here hulle laat verdwyn.

31. Mense bedrieg hulleself as hulle op nikswerd goed vertrou. Dit bring hulle net mooi niks in die sak nie.

32. Dit is soos ’n boom wat te gou uitdroog en nooit weer groen takke sal hê nie.

33. Hulle sal soos ’n wingerd wees waarvan die groen druiwe afval, soos ’n olyfboom wat bloeisels afgooi en dan nie vruggies kan dra nie.

34. Die mense wat God nie wil ken nie, se lewe lewer niks op nie. Hulle is goddeloos. Hulle huise is vol goed wat hulle van ander mense afgepers het. Hulle huise sal afbrand.

Lees volledige hoofstuk Job 15