Ou Testament

Nuwe Testament

Job 13:15-28 Die Boodskap (DB)

15. Ek weet God kan my doodmaak, maar dit maak nie saak nie. Daar is in elk geval nie meer hoop vir my nie. Ek wil by God uitkom en my saak stel.

16. Wat my redding behoort te wees is dat slegte mense dit nie sal waag om na Hom toe te kom nie. Ek is nie soos hulle nie, ek is gehoorsaam.”

17. Job het gesê: “Luister mooi wat ek nou gaan sê.

18. Ek het my feite mooi agtermekaar. Dit sal gou duidelik wees dat ek onskuldig is.

19. Ek dink nie daar is iemand wat hieroor met my kan stry nie. As ek verkeerd bewys word, sal ek tot die dag dat ek doodgaan my mond hou.”

20. Job het vir die Here gesê: “Daar is twee dinge wat ek wil vra wat U vir my moet doen. As U dit doen, hoef ek nie meer vir U weg te kruip nie.

21. Eerstens vra ek dat U my nie meer so swaar sal laat ly nie. Tweedens, moenie dat u geweldige teenwoordigheid my so bangmaak nie.

22. Vra maar wat U wil weet en ek sal antwoord. As U dit anders wil hê, sal ek eerste praat en U kan antwoord.

23. Het ek baie goed verkeerd gedoen? Wys my alles wat nie reg is nie of waar ek oortree het.

24. Hoekom steur U U nie aan my nie? Hoekom maak U asof ek u vyand is?

25. Wil U my probeer afskrik? Sal U ’n blaar probeer bangmaak? Ek is niks meer as ’n blaar wat in die wind rondwaai nie. Sal U ’n grashalm agtervolg? Ek is niks meer as ’n grashalm nie.

26. Die goed waarvan U my beskuldig, laat ’n bitter smaak in my mond. U gaan krap selfs in die dinge wat ek in my jeug verkeerd gedoen het en gooi my dit voor die kop.

27. U het my voete in boeie gesit. U hou elke tree dop wat ek gee. U volg selfs my voetspore.

28. En dit terwyl ek besig is om te vergaan, soos iets wat wegvrot. Ek is soos ’n stuk klere wat deur motte gevreet word.”

Lees volledige hoofstuk Job 13