hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42

Ou Testament

Nuwe Testament

Job 11 Die Boodskap (DB)

Sofar antwoord Job

1. Sofar, wat van Naäma af kom, het Job geantwoord en gesê:

2. “’n Mens moet iemand antwoord wat so baie te sê het. Al die gepraat is nie ’n bewys dat jy onskuldig is nie.

3. Moet ek stilbly terwyl jy aanhou met jou gebabbel? Iemand moet jou tog reghelp omdat jy met die Here spot. Jy behoort jou te skaam.

4. Jy is baie seker van jouself as jy sê: ‘Wat ek glo, is reg’ en: ‘Vir die Here is ek onskuldig.’

5. Ek wens God wil praat en vir jou sê wat Hy dink!

6. Ek wens Hy wil vir jou vertel wat die geheime van wysheid is. Ware wysheid is ingewikkeld; dit het meer as een kant. Dan sal jy insien dat God jou baie lig straf. Jy verdien eintlik om baie swaarder gestraf te word.

7. “Dink jy jy verstaan wie God regtig is en wat Hy doen? God se mag is geweldig groot. Dink jy dat jy verstaan hoe magtig Hy regtig is?

8. Die hemel is baie hoog. God is nog baie hoër as dit. So ook sy kennis. Jy kan nie daarby uitkom nie. En die doderyk is verskriklik diep. Sy kennis en insig is nog dieper as dit ook. Dit is nie iets wat jy sal kan verstaan nie.

9. Dit is baie breër as die aarde en wyer as die see.

10. Sê my ’n bietjie, as die Here iemand vat en hom in die tronk gooi, wie sal waag om Hom te stop? Wie sal Hom keer as Hy iemand voor die hof daag en straf?

11. Hy weet wie skelm is. Hy weet ook van al die verkeerde dinge wat hulle doen. Hy sal dit nie vergeet nie.

12. ’n Mens kan nie uit ’n donkie gebore word nie. Net so min kan ’n dom mens kennis en insig kry.

13. “Job, jy moet jou houding teenoor God regkry. Steek jou hande na Hom toe uit om te wys dat jy van Hom afhanklik is.

14. Hou op om verkeerde dinge te doen. Moenie verkeerde goed in jou huis toelaat nie.

15. Dan sal jy weer jou kop kan optel sonder om skaam te wees. Jy sal veilig kan voel en weet jy hoef nie bang te wees nie.

16. Jy sal van al jou swaarkry kan vergeet. Dit sal soos water wees wat verbyloop en nie weer terugkom nie. Jy sal daarvan vergeet.

17. Dit sal met jou goed gaan. Jou lewe sal meer lig hê as die son wat in die middag skyn. As daar donker tye in jou lewe kom, sal dit soos lig wees.

18. Omdat jy weet daar is hoop vir jou, sal jy moed hê vir die toekoms. As jy klaar na alles om jou gekyk het, sal jy veilig kan slaap.

19. Jy sal vir niks meer bang wees terwyl jy so lê en slaap nie. Baie mense sal in jou goeie boekies probeer wees.

20. Die mense wat hulle nie aan die Here steur nie, sal alle hoop verloor. Hulle kan nêrens heen vlug nie. Hulle enigste hoop is om dood te gaan.”