Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 40:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Hy sal vir sy volk sorg soos ’n skaapwagter sy skape oppas. Hy dra die lammers in sy arms. Hy hou hulle teen Hom vas. Hy sorg vir elke lammer se ma.

12. Wie kan met sy hand uitmeet hoeveel hande vol water daar in die see is? Wie kan meet hoe groot die blou lug daar bo is? Kan iemand sê hoeveel emmers vol stof daar op die aarde is? Kan iemand sê hoe swaar die berge weeg? Kan iemand sê wat die heuwels op ’n skaal sal weeg?

13. Wie kan vir die Here vertel wat Hy moet doen? Wie is daar by wie die Here raad kan kom vra?

14. By wie kan die Here kom kers opsteek as Hy nie verstaan nie? Wie kan vir die Here leer wat die regte pad is? Wie kan vir die Here leer hoe Hy dinge moet verstaan?

15. Die nasies is vir die Here soos ’n druppel in ’n emmer. Hulle is so min soos ’n stoffie wat jy op ’n skaal probeer weeg. Die lande is vir Hom so lig soos ’n sandkorreltjie.

16. Al die bome op die Libanonberg is nie eens genoeg om vir Hom een offer te bring nie. Al die diere op die Libanonberg is nie eens genoeg vir een offer vir die Here nie.

17. Al die nasies tel niks teenoor die Here nie. Hulle is vir Hom soos lug wat leeg is.

18. Met wie kan julle God vergelyk? Watter beeld kan julle gebruik om Hom te beskryf?

19. Hy is mos nie soos ’n afgodsbeeld wat uit yster gegiet word en wat ’n kunstenaar dan met goud en silwer oortrek nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 40