Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 32:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Kyk, daar kom ’n koning wat met absolute regverdigheid regeer. Ook sy amptenare se administrasie sal eerlik wees.

2. Net soos ’n sterk skuilplek iemand teen die wind en die storms beskerm, sal hulle die volk beskerm. Hulle sal vir die volk soos ’n stroom koue water in ’n droë land wees en soos die koel skaduwee van ’n groot rots in ’n kaal, onherbergsame land.

3. Dan sal hulle oë en hulle ore oop wees om te sien wat die Here vir hulle wil wys, en te hoor wat Hy vir hulle wil sê.

4. Selfs dié wat ongeduldig en oorhaastig was, sal rustig oor ’n saak dink en gesonde oordeel aan die dag lê. Dié wat onseker was van hulleself en stamelend hulle saak probeer stel het, sal vol vertroue praat en hulle punt maak.

5. Dan sal niemand meer dink dat ’n dwaas iemand is op wie jy kan peil trek, of dat ’n skurk goeie motiewe het nie.

6. Almal sal die goddelose dwase herken vir wat hulle is en aan die gek goed wat hulle doen. Hulle beledig die Here en gee nie om dat mense honger ly en dors is nie.

7. Die skelmstreke van die skurk sal aan die lig kom. Hy is altyd met iets onderduims aan die gang en maak planne om deur leuens en bedrog die arm mense aan die kortste ent te laat trek.

8. ’n Eerbare mens het suiwer motiewe en hy kom op vir wat reg is.

9. Julle vroue wat so sorgvry en selfversekerd leef, moet mooi luister na wat ek te sê het.

10. Op die oomblik kan julle wel selfversekerd aangaan asof niks julle ooit kan pla nie, maar oor ’n bietjie meer as ’n jaar sal julle beslis bekommerd raak, want daar sal nie druiwe wees om te oes of vrugte om te pluk nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 32