Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 25:6-12 Die Boodskap (DB)

6. Op die berg Sion gaan die Here die Almagtige ’n feesmaal voorberei vir al die volke van die wêreld. Daar sal ’n oorvloed heerlike kos en die beste wyn wees.

7. Hier op die berg sal die Here die wolk van onheil wat oor die volke gehang het, wegvat asook die doek wat hulle oor hulle gesigte gedra het as teken van hulle rou en hartseer.

8. Hy sal die dood vir ewig vernietig en die trane afdroog. Die Here sal ’n einde maak aan die vernedering wat sy volk oor die wêreld moes verduur. Die Here het dit gesê.

9. Wanneer dit gebeur, sal almal sê: Kyk, so tree ons God op! Ons het op Hom vertrou en Hy het ons verlos. Dit is die Here op wie ons vertrou het. Kom ons jubel en juig omdat Hy ons gered het.

10. Die mag van die Here sal hier op die berg Sion bewys word wanneer Moab aan die voet van die berg vertrap word soos stoppels strooi deur die beeste in die mis ingetrap word.

11. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om weg te kom. Hulle sal hulle hande uitsteek soos iemand wat besig is om te verdrink, maar ten spyte van hulle uitgestrekte hande sal die Here hulle verneder en hulle aan hulle lot oorlaat.

12. Hy sal Moab se sterk mure gelyk met die grond afbreek.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 25