Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 22:1-2-8 Die Boodskap (DB)

1-2. Hierdie is ’n aankondiging wat genoem word: “Die Vallei van die Visioen.” Wat gaan aan? Wat doen julle almal op julle huise se dakke? Hoekom is die hele stad Jerusalem opgewonde en luidrugtig besig om fees te vier? Julle soldate lê dood in die strate, nie omdat hulle geveg het nie, maar omdat hulle dood is van die honger en van al die siektes in die stad.

3. Julle leiers het soos een man gevlug en oorgegee sonder om weerstand te bied. Party het probeer vlug, maar hulle het nie ver gekom voordat hulle ook gevang is nie.

4. Toe ek dit sien, het ek gesê: “Los my uit! Moenie my probeer troos nie. Los my dat ek kan huil oor my volk se ondergang!”

5. Wat ’n dag van paniek en verwarring het die Here die Almagtige oor die Vallei van die Visioen gebring. Die mure van Jerusalem is afgebreek, die noodkrete van die mense eggo van die berge af.

6. Die boogskutters van Elam kom aangestorm op perde en strydwaens. Die soldate van Kir het reeds hulle swaarde en skilde gereed vir die geveg.

7. Juda se vrugbare vlaktes word oorstroom met strydwaens, die ruiters staan gereed voor Jerusalem se hekke.

8. Van hulle verdedigingslinies het daar niks oorgebly nie. Toe het julle skielik na julle wapens gaan soek in die magasyn.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 22