Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 24:4-10 Die Boodskap (DB)

4. Die Here het toe vir my hierdie boodskap gegee:

5. “Ek is die Here, die God van Israel, en van hierdie mandjies sê Ek: Die goeie vye is soos die mense van Juda wat Ek uit hulle land laat wegvat het na die land van die Babiloniërs. Dit was vir hulle eie beswil dat Ek dit gedoen het.

6. Maar Ek sal ’n ogie oor hulle hou en kyk dat dit met hulle goed gaan. Ek sal hulle weer na hulle land toe laat terugkom. Soos ’n mens ’n gebou opbou, so sal Ek met die mense maak wat terugkom uit Babel. Ek sal sorg dat dinge weer vir hulle begin regkom. Ek sal hulle nie weer afbreek nie. Dit sal wees asof Ek hulle ’n nuwe volk maak. Ek sal hulle nie laat ophou bestaan nie.

7. Ek sal hulle weer mense maak wat sal erken dat Ek die Here is. Hulle sal weer soos my eie mense wees en Ek sal hulle God wees. Hulle sal My alleen dien en niemand anders nie.”

8. Van die slegte vye sê die Here: “Koning Sedekia van Juda, sy leiers, die mense van Jerusalem wat in die land agtergebly het en ook nog die mense wat in Egipte bly, is soos hierdie vye. Ek sal met hulle maak soos met hierdie slegte vye wat ’n mens nie kan eet nie.

9. Dit sal so sleg gaan met Sedekia en sy groep mense dat die nasies van die wêreld sal skrik. In al die lande waarheen Ek hulle sal verstrooi, sal mense niks van hulle dink nie. Hulle sal gespot word. Mense sal grappe oor hulle maak en hulle naam soos ’n vloekwoord gebruik.

10. Ek sal vyande teen hulle laat oorlog maak. Maar Ek sal ook sorg dat daar nie kos is om te eet nie. Verder sal siekte-epidemies onder hulle uitbreek. Dit sal aanhou totdat daar niemand in die land Israel oor is wat Ek aan hulle en hulle voorouers gegee het nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 24