Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 13:8-15 Die Boodskap (DB)

8. Ek sal hulle aanval soos ’n woedende beer as iemand haar kleintjie by haar probeer wegvat. Ek sal hulle uitmekaarskeur. Ek sal daar langs die pad gaan lê en hulle opvreet soos ’n leeuwyfie. Wanneer Ek klaar is, sal die wilde diere van die veld hulle verder uitmekaarskeur en opvreet.

9. “Ek gaan jou uitroei, Israel. Ek het jou gehelp, maar jy het die rug vir My gedraai.

10. Waar is jou koning nou? Waar is die een wat jou kon kom help het toe die vyand jou stede aangeval het? Waar is die regters nou vir wie jy gevra het om vir jou ’n koning en leiers te gee?

11. Ek was al klaar vies vir julle toe Ek vir julle ’n koning gegee het. Ek is nou woedend vir julle as Ek hom by julle wegvat.”

12. “Ek het Efraim se oortredings opgeteken. Sy sonde staan op papier.

13. Efraim is soos ’n kind wat nie verstand het nie. Hy is domastrant. Hy is soos ’n ongebore baba in sy ma se lyf wat nie in die wêreld wil kom as dit tyd is om gebore te word nie.

14. Sal Ek keer dat hulle doodgaan? Sal Ek hulle verlos uit die dood? Nee wat, laat die dood maar kom met sy rampe. Laat die dood sy pyn bring. Ek voel niks meer vir hulle nie.

15. Al het Efraim ook vooruitgegaan en bo die ander uitgestyg, die Here sal hom laat doodgaan. Die Here sal ’n oostewind stuur wat uit die woestyn waai en alles laat uitdroog. Sy land sal verdroog. Sy waterputte sal opdroog. Sy fonteine sal gaan staan. Die wind sal alles wat goed was in sy land, wegwaai.

Lees volledige hoofstuk Hosea 13