Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 12:1-10 Die Boodskap (DB)

1. “Efraim probeer My om die bos lei met leuens. Israel lieg vir My. Juda sê hy is getrou aan My, maar hy loop ook agter afgode aan. Hy probeer op twee stoele sit.

2. Efraim mors sy tyd met dinge wat niks beteken nie. Hulle hou hulle heeldag besig met leuens en geweld. Hy sluit ’n ooreenkoms met Assirië. Tegelyk onderhandel hy ook met Assirië se vyand. Hy stuur olie na Egipte om in hulle goeie boekies te kom.”

3. “Die Here maak ’n hofsaak teen Juda. Hy gaan Jakob straf vir die manier waarop hy leef. Hy gaan die dinge wat hy doen, teen hom gebruik.

4. Nog voor hy gebore is, het hy sy tweelingbroer probeer bedrieg. Toe hy ’n groot man was, het hy met God geveg.

5. Hy het met die Man uit die hemel gestoei en Hom begin wen. Hy het gehuil en die Man het hom jammer gekry. Die Here het hom by Bet-El gekry en daar met hom gepraat.

6. Dit was die Here, die God van groot krag. Sy Naam is ‘Die Here’.

7. Kom terug na jou God toe. Bly getrou aan die Here. Doen wat Hy vir jou sê. Hou Hom altyd in gedagte.”

8. “Israel is soos Kanaän. Hy is skelm as hy dinge verkoop. Hy probeer altyd mense verkul wat by hom koop.

9. Dan spog Efraim nog en sê: ‘Ek het ryk geword. Ek het ’n miljoenêr geword. Niemand kan ’n vinger na my wys nie. Niemand kan my beskuldig dat ek oneerlik was nie.’”

10. Die Here sê: “Ek is die Here. Ek is julle God. Ek het julle uit Egipte laat wegtrek. Ek sal julle weer in tente laat bly soos die tyd in die woestyn. Toe het Ek in my tent tussen julle gebly.

Lees volledige hoofstuk Hosea 12