Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Toe het Josef vir die hoof van sy huis opdrag gegee: “Stop die mans se sakke tot bo toe vol met kos en sit ook elkeen se geld in die sak terug.

2. Vat dan my beker, die silwer een waaruit ek altyd drink, en sit dit saam met die geld wat hy vir die koring betaal het, bo in die jongste se sak.” Die hoof van die huis het gedoen wat Josef gesê het.

3. Teen dagbreek die volgende oggend is die mans met hulle swaargelaaide donkies daar weg.

4. Hulle was net ’n klein entjie weg toe Josef die hoof van sy huis beveel: “Sit hulle agterna en as jy by hulle kom, moet jy sê: ‘Dit is darem nou vir jou stank vir dank! Waarom het julle die beker gevat?

5. Dit is die beker waaruit meneer Josef elke dag drink en wat hy gebruik om die toekoms te voorspel. Julle het ’n verskriklike ding gedoen.’”

6. Die huisheer is onmiddellik daar weg en het hulle sommer gou ingehaal.

7. Toe hy al die woorde van Josef vir hulle gesê het, was hulle verslae. “Hoe kan Meneer dit sê? Ons sal dit mos nooit doen nie.

8. Meneer weet tog dat ons al die geld teruggebring het wat die vorige keer in ons sakke was. Ons het dit die hele pad van Kanaän af saamgedra. Waarom sal ons dan nou silwer of goud uit meneer Josef se huis wil steel?

9. As enigeen van ons die beker het, moet hy beslis doodgemaak word. Die res van ons sal dan vir meneer Josef gaan werk.”

10. Die huisheer het gesê: “Dit is nie nodig nie. Net die een wat die beker gesteel het, sal as slaaf moet agterbly. Die res van julle kan maar huis toe gaan.”

11. Elkeen het toe vinnig sy sak van die donkies afgehaal en dit oopgemaak.

Lees volledige hoofstuk Genesis 44