Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:37-48 Die Boodskap (DB)

37. Josef se planne het die farao en al sy amptenare sommer baie beïndruk.

38. Die farao het vir sy amptenare gesê: “Waar is daar nog ’n man soos Josef in wie die Gees van God is? Iemand met so ’n gawe sal ons nooit weer kry nie.”

39. Toe het die farao vir Josef gesê: “Jou God het jou al hierdie dinge vertel; daarom is daar nêrens iemand so slim en wys soos jy nie.

40. Van vandag af sal jy in beheer van my paleis wees en al my mense sal na jou luister. Net ek sal meer mag hê as jy.

41. En ek gee jou alle mag om oor die hele Egipte te regeer.”

42. Op daardie oomblik het die farao sy seëlring afgehaal en dit aan Josef se vinger gesteek. Hy het hom ook fyn linneklere laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang.

43. Toe het hy Josef in die wa van die onderkoning laat klim en hom deur die strate gelei terwyl almal skreeu: “Gee pad voor!” So is Josef, die seun van Jakob, dan oor die hele land aangestel.

44. Die farao het verder vir Josef gesê: “Alhoewel ek die farao is, sal niemand in hierdie land ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou toestemming nie.”

45. Die farao het vir Josef ’n ander naam gegee en hom Safenat-Paneag begin noem. Hy het hom ook ’n vrou gegee en haar naam was Asenat. Sy was die dogter van Potifera, die priester van On. Josef het deur die hele Egipte gereis.

46. Hy was 30 jaar oud toe die farao van Egipte hom oor die land aangestel het. Hy het die farao gegroet en met ’n lang reis deur die hele Egipte begin.

47. Gedurende die eerste sewe goeie jare was daar ’n enorme oorvloed kos in die land.

48. Josef het egter presies geweet wat om met die ryk oeste te doen. Met groot kundigheid het hy die kos in stede gestoor. In elke stad is die oeste van die omgewing opgeberg.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41