Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:22-42 Die Boodskap (DB)

22. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet.

23. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog.

24. En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.”

25. Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen.

26. “Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding.

27. Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood.

28. “Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel.

29. “Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte.

30. Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet.

31. Dag vir dag sal die land deur hongersnood verwoes word en van die goeie jare sal niks oorbly nie, so verskriklik sal hierdie hongersnood wees.

32. “U het twee keer dieselfde ding gedroom omdat God u wil verseker dat alles wel so gaan gebeur. En boonop sal dit alles gou gebeur.

33. “Farao moet daarom ’n slim man soek met goeie politieke en administratiewe insigte wat oor die hele Egipte kan regeer.

34. U moet ook bekwame bestuurders oor die hele land aanstel. Hulle moet ’n belasting van ’n vyfde van alles wat die land produseer, hef tydens die goeie jare.

35. Tydens die sewe goeie jare moet hulle voedselvoorrade opbou. Met u hulp moet hulle koring in voorraadstede opberg en dit dan goed bewaar.

36. Uit hierdie voedselvoorrade moet die mense dan gedurende die sewe honger jare leef. So sal die land hierdie verskriklike ramp oorleef.”

37. Josef se planne het die farao en al sy amptenare sommer baie beïndruk.

38. Die farao het vir sy amptenare gesê: “Waar is daar nog ’n man soos Josef in wie die Gees van God is? Iemand met so ’n gawe sal ons nooit weer kry nie.”

39. Toe het die farao vir Josef gesê: “Jou God het jou al hierdie dinge vertel; daarom is daar nêrens iemand so slim en wys soos jy nie.

40. Van vandag af sal jy in beheer van my paleis wees en al my mense sal na jou luister. Net ek sal meer mag hê as jy.

41. En ek gee jou alle mag om oor die hele Egipte te regeer.”

42. Op daardie oomblik het die farao sy seëlring afgehaal en dit aan Josef se vinger gesteek. Hy het hom ook fyn linneklere laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41