Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:16-30 Die Boodskap (DB)

16. “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.”

17. Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan.

18. Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet.

19. Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie.

20. En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op.

21. ’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword.

22. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet.

23. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog.

24. En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.”

25. Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen.

26. “Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding.

27. Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood.

28. “Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel.

29. “Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte.

30. Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41