Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:11-23 Die Boodskap (DB)

11. “Een aand het ek en die hoofbakker elkeen ’n droom gehad. Twee aparte drome met twee aparte betekenisse.

12. Saam met ons in die tronk was daar ’n jong Hebreër. Hy het die hoof van die tronkbewaarders met allerlei takies gehelp. Toe ons hom van die drome vertel, het hy dit sommerso uitgelê. Elkeen se droom het hy vir hom uitgelê.

13. En presies soos hy gesê het, het dit toe gebeur. Ek het weer my ou pos teruggekry, maar die bakker is opgehang.”

14. Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat.

15. Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.”

16. “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.”

17. Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan.

18. Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet.

19. Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie.

20. En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op.

21. ’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword.

22. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet.

23. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41