Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Twee lang jare het verbygegaan, maar niks het gebeur nie. En toe, een aand, het die farao ’n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl.

2. Skielik kom daar sewe koeie uit die water. Hulle was mooi en rond van die vet, en het van die groen gras aan die oewer begin vreet.

3. Na ’n ruk het sewe ander koeie uit die water gekom. Hulle was maer en lelik, en het tussen die ander koeie op die Nyloewer gewei.

4. En die lelike, maer koeie het die sewe vet koeie opgevreet. Toe het die farao wakker geskrik.

5. Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n droom gehad. Sewe mooi, vol koringare het aan een stingel opgeskiet.

6. ’n Entjie verder het sewe ander koringare opgeskiet. Hulle was dun en is deur die warm oostewind verskroei.

7. En die sewe dun are het die sewe vol are opgeëet. Toe het die farao weer wakker geword en besef dit was net ’n droom.

8. Die volgende oggend was die farao baie onrustig. Hy het al Egipte se geleerde en wyse manne bymekaargeroep en vir hulle van sy drome vertel. Niemand kon egter sy drome verklaar nie.

9. Toe het die hoofskinker van Josef onthou. “Ek wil u vandag van iemand vertel,” het hy gesê.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41