Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:18-25 Die Boodskap (DB)

18. Vir die leier van die voorste trop het hy gesê: “Jy moet katvoet loop. As my broer, Esau, jou sien, sal hy jou vra wie jy is, vir wie jy werk, waarheen jy op pad is en wie se vee dit is.

19. “Dan moet jy mooi dink voor jy praat. Sê: ‘Ek werk vir u broer, Jakob. En al die troppe vee is ’n geskenk aan u, meneer Esau. U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.’”

20. Jakob het dieselfde raad vir al die leiers van die ander veetroppe gegee. Hulle moes almal dieselfde vir Esau sê.

21. Almal moes veral onthou om te sê: “U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.” Jakob het by homself gedink: “Dit is goed dat ek al die geskenke vooruitstuur. So kan ek Esau se hart sag maak. As ons mekaar dan sien, vergewe hy my dalk alles.”

22. Jakob het toe die vee vooruitgestuur, maar hyself het die nag in die kamp geslaap.

23. Laatnag het hy wakker geword. Daar en dan besluit hy om Lea en Ragel, Silpa en Bilha, sowel as die elf seuns, deur die rivier te neem. Hulle is toe by die Jabbok se driwwe deur.

24. Toe hy sy familie veilig deur die rivier gekry het, het hy ook al sy besittings gestuur.

25. Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ’n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou.

Lees volledige hoofstuk Genesis 32