Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:17-30 Die Boodskap (DB)

17. Hy het al die vee in troppe verdeel en ’n leier vir elke trop aangestel. Jakob het hulle nader geroep en gesê: “Julle moet voor loop en ek sal julle volg. Sorg dat daar ’n goeie afstand tussen elke trop is.”

18. Vir die leier van die voorste trop het hy gesê: “Jy moet katvoet loop. As my broer, Esau, jou sien, sal hy jou vra wie jy is, vir wie jy werk, waarheen jy op pad is en wie se vee dit is.

19. “Dan moet jy mooi dink voor jy praat. Sê: ‘Ek werk vir u broer, Jakob. En al die troppe vee is ’n geskenk aan u, meneer Esau. U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.’”

20. Jakob het dieselfde raad vir al die leiers van die ander veetroppe gegee. Hulle moes almal dieselfde vir Esau sê.

21. Almal moes veral onthou om te sê: “U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.” Jakob het by homself gedink: “Dit is goed dat ek al die geskenke vooruitstuur. So kan ek Esau se hart sag maak. As ons mekaar dan sien, vergewe hy my dalk alles.”

22. Jakob het toe die vee vooruitgestuur, maar hyself het die nag in die kamp geslaap.

23. Laatnag het hy wakker geword. Daar en dan besluit hy om Lea en Ragel, Silpa en Bilha, sowel as die elf seuns, deur die rivier te neem. Hulle is toe by die Jabbok se driwwe deur.

24. Toe hy sy familie veilig deur die rivier gekry het, het hy ook al sy besittings gestuur.

25. Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ’n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou.

26. Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ’n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het.

27. Die man sê toe: “Los my tog nou, want dit is al dagbreek.”Jakob het toe gesê: “Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.”

28. “Wat’s jou naam?” stotter die man.“My naam is Jakob,” het Jakob geantwoord.

29. “Van nou af,” sê die man, “sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.” Die man het verder gesê: “Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen.”

30. Jakob was verbaas. “Wie is jy nou eintlik? En wat is jou naam?” het hy gevra.“Hoekom vra jy my naam?” het die man gesê. Hy het Jakob geseën en toe is hy weg.

Lees volledige hoofstuk Genesis 32