Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Here, ek is te klein vir u groot liefde. U was baie goed vir my en ek het dit nie verdien nie. Destyds is ek oor die Jordaan met net my kierie. Vandag het ek so baie besittings dat die twee kampe sommer vol staan.

12. En nou, Here, vra ek u hulp. Esau is op pad en ek is baie bang. Red my uit sy hande. Ek is bang hy maak my dood en sommer ook al die vroue en kinders.

13. “Here, U het tog self gesê dat U goed vir my sal wees en dat my nageslag baie sal wees. So baie soos die sand van die see. ’n Ontelbare menigte.”

14. Nadat Jakob die nag daar geslaap het, het hy besluit om vir Esau ’n present te gee. Hy wou sommer van sy vee neem en vir Esau gee.

15. Hy het hulle toe mooi afgetel: 200 bokooie en 20 bokramme, 200 ooie en 20 ramme,

16. 30 kameelkoeie met hulle kalwers, 40 koeie en 10 bulle, 20 donkiemerries en 10 donkiehingste. Dit was sy geskenk vir sy broer, Esau.

17. Hy het al die vee in troppe verdeel en ’n leier vir elke trop aangestel. Jakob het hulle nader geroep en gesê: “Julle moet voor loop en ek sal julle volg. Sorg dat daar ’n goeie afstand tussen elke trop is.”

18. Vir die leier van die voorste trop het hy gesê: “Jy moet katvoet loop. As my broer, Esau, jou sien, sal hy jou vra wie jy is, vir wie jy werk, waarheen jy op pad is en wie se vee dit is.

19. “Dan moet jy mooi dink voor jy praat. Sê: ‘Ek werk vir u broer, Jakob. En al die troppe vee is ’n geskenk aan u, meneer Esau. U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.’”

Lees volledige hoofstuk Genesis 32