Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:18-29 Die Boodskap (DB)

18. Sy het gesê: “U is welkom, Meneer. Drink gerus.” Sy het vinnig die kruik van haar skouer afgetel en so gehou dat hy kon drink.

19. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek gee sommer vir jou kamele ook water. Hulle kan drink soveel as wat hulle wil.”

20. Sy het toe die res van die kruik se water in die trog gegooi en is op ’n drafstap fontein toe om nog te kry. So het sy aangehou totdat al die kamele klaar gedrink het.

21. Abraham se werker het alles eenkant staan en dophou. Hy wou sien of die Here sy reis voorspoedig sou maak.

22. Na die kamele klaar gedrink het, het hy ’n duur, goue ring gevat en dit vir haar gegee. Hy het ook twee kosbare, groot goue armbande geneem en dit om haar arms gesit.

23. Daarna het hy haar gevra: “Wie is jou pa? Is daar dalk plek in sy huis vir my en my mense om te oornag?”

24. “My pa se naam is Betuel. Hy is die seun van Nahor en Milka.

25. En julle is baie welkom by my pa-hulle. Daar is strooi en kos in oorvloed en ook genoeg slaapplek vir almal.”

26. Toe kon Abraham se werker dit nie meer hou nie. Hy het net daar op sy knieë geval en die Here geloof.

27. “Loof die Here, die God van my eienaar Abraham, want Hy is getrou. Prys Hom, want Hy het gedoen wat Hy belowe het. Maak sy Naam groot, want Hy het my sommer reguit na meneer Abraham se mense toe gelei.”

28. Na die man se gebed is die meisie huis toe en sy het haar ma alles gaan vertel.

29. Rebekka se broer Laban het die storie gehoor en is reguit fontein toe om die man te ontmoet.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24