Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:28-37 Die Boodskap (DB)

28. Hy het in Sodom en Gomorra se rigting gekyk en net verwoesting aanskou. Al die dorpe in die omgewing was vernietig. Donker rookwolke het oor die gebied gehang saam met die skerp reuk van rookwalms.

29. Terwyl die Here die stede in die vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink. Hy het onthou wat Abraham Hom gevra het; daarom is Lot en sy mense nie in die ramp dood nie.

30. Lot en sy dogters is later van Soar af weg. Hulle was bang om langer daar te bly. Hulle is toe die berge in en het in ’n grot gaan woon.

31. Lot se oudste dogter sê toe eendag vir haar suster: “Pa word oud en hier is geen man in die omgewing met wie ons kan trou nie.

32. Kom ons maak Pa dronk en dan gaan slaap ons by hom. Deur Pa kan ons dan vir ons ’n nageslag bou.”

33. Daardie aand het hulle Lot dronk gemaak. Toe hy goed dronk was, het die oudste by hom gaan lê. Lot het nie eens geweet dat sy oudste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie.

34. Die volgende oggend het die oudste vir die jongste dogter gesê: “Ek het laas nag by Pa geslaap. Vannag is dit jou beurt. Ons maak hom eers goed dronk en dan gaan lê jy by hom. So sal ons darem ’n nageslag hê.”

35. Daardie aand het hulle toe weer hulle pa dronk gemaak en ook die jongste dogter het by hom geslaap. Lot het weer nie eens geweet dat sy jongste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie.

36. So het elkeen van die dogters ’n kind van hulle pa verwag.

37. Die oudste het ’n kind gebaar en hom Moab genoem. Tot vandag toe is hy die stamvader van die Moabiete.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19