Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 43:15-27 Die Boodskap (DB)

15. Die plek waar vuur gemaak word, is twee meter hoog. Op die vier hoeke was daar punte wat soos ’n bees se horings gelyk het en boontoe gewys het.

16. Die plek waar die vuur gemaak word, is vierkantig en was ses meter in deursnee.

17. Die heel boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter in deursnee. Die voor wat die water weglei, het ’n rand wat ’n kwart meter breed is en ’n halwe meter diep. Die trap waarteen ’n mens opklim na die altaar, is aan die oostekant daarvan.

18. Toe sê die man met die liniaal vir my: “Mens, die Here my God sê dat jy vir die volk moet sê die dag as hierdie altaar klaar gebou is, moet die mense wat in my huis werk, ’n bul daarop offer vir al die slegte dade wat hulle gedoen het.

19. Net hierdie mense, die kleinkinders van Sadok, mag by die altaar kom. Net hulle mag hier werk, sê die Here, Esegiël se God.

20. Hulle moet van die bul se bloed vat en aan die vier horings van die altaar smeer. Ook aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar moet jy bloed smeer, en teen die sykante daarvan reg rondom. So maak jy die altaar skoon en mag jy daarop offers vir My bring.

21. As jy klaar is hiermee, moet jy die bul verbrand. Daar is ’n spesiale plek hiervoor buitekant my huis.

22. Die volgende dag moet jy ’n bokram wat nie sieklik of gebreklik is nie, offer vir die slegte dade wat julle gedoen het. Dan moet jy weer die bloed aan die altaar smeer net soos die vorige dag.

23. As jy klaar is hiermee, moet jy ’n bul en ’n ram as offers bring. Hulle mag nie gebreklik wees nie.

24. Die mense wat hier werk, moet sout op die vleis gooi. Dan moet hulle dit voor My offer.

25. So moet jy sewe dae lank elke dag ’n bok- en ’n skaapram verbrand vir die slegte dade wat julle gedoen het. Hulle mag nie gebreklik wees nie.

26. Sewe dae lank moet jy dit doen sodat die altaar daarna gereed kan wees om in my huis gebruik te word. Hierdie altaar mag slegs vir diens aan My gebruik word.

27. Hierna, van die agtste dag af, mag die mense wat hier werk, ook ander offers bring. Ek sal dan julle offers aanvaar,” sê die Here, die God van Esegiël.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 43