Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 32:4-13 Die Boodskap (DB)

4. Dan sal Ek jou daar op die strand laat lê. Jy sal daar doodgaan. Al die voëls sal op jou karkas kom sit. En die wilde diere sal aan jou kom vreet.

5. Ek maak dat jy op die berge lê, en dat jou bene in die valleie rondlê.

6. Ek maak die aarde nat met jou bloed, tot by die berge. Jou bloed sal die valleie vol loop.

7. Die dag as Ek jou van die aarde afvee en jou doodmaak, sal Ek sorg dat die sterre donker word. Die wolke sal voor die son inskuif. En die maan sal donker wees.

8. Ja, die hele wêreld sal donker word, oor die hele Egipte. Selfs die helderste sterre bokant jou sal donker wees. Want Ek, die Here, die God van Esegiël, beveel dat dit moet gebeur.

9. “Ek sal die mense wat in jou oorbly na ver lande laat wegvat as gevangenes. Mense sal nie glo wat met jou gebeur het nie. Hulle sal wit geskrik wees as Ek jou vernietig.

10. Ja, Ek maak dat mense oor die hele wêreld bleek sal word soos hulle skrik. Die konings van die wêreld sal bewe, so bang is hulle dat hulle ook doodgemaak word as Ek Egipte verwoes.”

11. So sê die Here, die God van Esegiël: “Die koning van Babilonië sal kom en jou aanval.

12. Ek vernietig jou in daardie oorlog, want hulle is sterk en ervare soldate. Al die nasies is bang vir die Babiloniese weermag. Hulle sal jou op jou knieë bring, Egipte, want jy is ’n trotse volk. Sy soldate sal jou vernietig.

13. Dan vernietig Ek jou skape en beeste wat langs die riviere wei. Nooit sal enige dier of mens weer daar kom nie. Ek maak jou land ’n verlate plek, ’n woestyn.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 32