Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 38:6-25 Die Boodskap (DB)

6. Hulle het die drastokke van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek.

7. Die drahoute is deur die ringe gesteek om die altaar te dra wanneer dit vervoer moes word. Die altaar was ’n houtkis wat van binne hol was.

8. Hulle het ook die kom met sy voetstuk waar die werkers hulleself moes gaan was, van koper gemaak. Die koper is geskenk deur die vroue wat by die ingang van die tent gewerk het. Hulle het hulle koperspieëls hiervoor gegee.

9. Verder het hulle ook ’n binnehof gemaak. Dit was ’n lapa reg rondom die tent. Die suidelike muur is van fyn linne gemaak. Dit was 44 meter lank.

10. Die twintig pale wat dit regop gehou het en die hakies waaraan dit gehang het, was van silwer. Die silwerpale het kopervoetstukke gehad.

11. Die muur aan die teenoorstaande kant van die binnehof was net so lank en het net soveel regop pale op kopervoetstukke gehad. Die gordyn voor die ingang het ook aan silwerhakies gehang en die regop pale waaraan dit vas was, was ook van silwer.

12. Aan die westekant was die binnehof 23 meter lank. Daar was tien regop pale op voetstukke van koper. Ook hier was die hakies en pale van silwer.

13. Aan die kant waar die son opkom, aan die oostekant, was die binnehof ook 23 meter lank.

14-15. Daar was tien meter gordyn aan weerskante van die opening wat elkeen aan drie regop pale op voetstukke gehang het.

16. Die materiaal wat reg rondom gebruik is om die binnehof te maak, was van fyngeweefde linne.

17. Die voetstukke van al die pale was van koper gemaak. Die hakies waaraan die materiaal gehang het en die gordynstokke waardeur dit geryg is, was alles van silwer.

18. Die gordyn by die ingang na die binnehof aan die oostekant, is gemaak van geweefde linne met blou, pers en bloedrooi weefwerk en borduursel. Dit was nege meter lank en, soos die hele afskorting van die binnehof reg rondom, bykans twee meter hoog.

19. Dit is aan vier pale met hulle voetstukke van koper gehang. Die pale se bopunte, die hakies wat gebruik is en die gordynstokke waaraan dit hang, was van silwer.

20. Die tentpenne waarmee die tent en die gordyn geanker is, is van koper gemaak.

21. Hier volg nou presies die hoeveelheid materiaal wat gebruik is om die tent te maak. Die Leviete het alles onder leiding van Itamar presies opgeteken. Moses het gesê dat dit gedoen moes word.

22. Besaleël die seun van Uri uit die stam van Juda het toesig gehou en gekyk dat alles gemaak is presies soos die Here gesê het.

23. Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan het hom gehelp. Hy was ’n vakman en ontwerper wat die bekwaamheid gehad het om borduurwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol op linne.

24. Die goud wat gebruik is om alles vir die tent te maak, was in totaal 986 kilogram goud en 38 kilogram silwer. Dit het gekom uit die vrywillige bydraes wat die volk gemaak het.

25. Die silwer wat bymekaargemaak is toe die volk getel is, was 3 400 kilogram plus nog twintig en ’n vyfde kilogram.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 38