Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 33:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Moses gesê: “Jy en jou volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar verder trek na die land wat Ek vir Abraham, Isak en Jakob beloof het. Ek het hulle immers belowe dat Ek die land vir hulle nakomelinge sal gee.

2. Ek sal my hemelse boodskapper stuur om jou na dié vrugbare land te lei. Hy sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat daar bly, uit die land verdryf.

3. Ek self sal nie saam met julle soontoe gaan nie. Hierdie volk volg hulle eie kop. As Ek saam met julle moet gaan, gaan Ek julle net langs die pad vermoor.”

4. Toe die volk hierdie harde woorde van die Here hoor, het hulle baie hartseer geword. Hulle het al die juweliersware afgehaal wat hulle gedra het.

5. Dit was omdat die Here Moses vir hulle laat sê het: “Julle is te eiewys dat Ek dit vir een oomblik met julle sal kan uithou wanneer Ek saam met julle moet gaan. Haal liewer julle juweliersware af dat Ek kan kyk wat Ek met julle wil doen.”

6. Vandat hulle van die Horebberg af weg is, het die Israeliete nooit weer juweliersware gedra nie.

7. Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af in die veld opgeslaan. Hy het dit genoem “die tent waar daar vir God raad gevra word”. Elkeen wat by die Here raad gesoek het, het soontoe gegaan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 33