Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 25:25-39 Die Boodskap (DB)

25. Slaan dan ’n lys reg rondom die tafel vas en sit ook daaraan ’n goue rand vas.

26. Jy moet ook vir die tafel ringe van goud maak soos vir die ark waardeur drastokke gesteek kan word.

27. Die ringe moet aan die lang kante op die hoeke net onder die lys vasgesit word. Twee stokke moet daardeur gesteek kan word om die tafel te dra.

28. Maak drastokke van akasiahout wat deur die ringe pas. Hulle moet ook met goud oorgetrek word. Die tafel kan aan hulle gedra word.

29. Maak ook skottels en bakke waarin die geurige wierook kan brand. Maak ook houers en bakke van suiwer goud om vir die offers van wyn en olie te gebruik.

30. Julle moet sorg dat daar altyd brood neergesit word wat vir My geoffer word waar Ek dit kan sien.”

31. “Jy moet ook ’n goue ligstaander maak. Sy voetstuk en steel moet uit een stuk goud gevorm word. Dit moet met blomkelke, blomknoppe en kroonblare versier wees.

32. Daar moet ses arms uit die steel kom, drie aan die een kant en drie aan die ander kant.

33. Aan elkeen van die ses arms wat uit die stam vertak, moet daar drie kelkies in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare wees.

34. Die steel self moet vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare aan die bokant hê.

35. Aan die onderkant van elkeen van die arms, net waar dit uit die steel kom, moet daar ’n goue blomknop vas wees.

36. Die arms en blomknoppe moet alles uit een stuk goud gevorm wees.

37. “Maak ook sewe olielampe vir die staander. Jy moet dit op so ’n manier daaraan vassit dat die lig van die lampe na die voorkant van die staander skyn.

38. Ook die tangetjie waarmee jy die vlammetjies van die lampe doodknyp en die houers met die olie en die pit in, moet van suiwer goud gemaak word.

39. Daar sal 34 kilogram suiwer goud nodig wees om die staander en al sy dele te maak.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 25