Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 25:21-31 Die Boodskap (DB)

21. Jy moet die getuienis van die ooreenkoms wat Ek aan jou gaan gee, binne-in die ark sit. Dan moet jy die deksel bo-op die ark pas.

22. Ek sal jou by daardie ark ontmoet. Ek sal daar met jou van die deksel af praat. Ek sal van tussen die figure met die vlerke op die ark vir jou alles sê wat Ek van die Israeliete verwag.”

23. “Jy moet ook ’n tafel van akasiahout maak. Dit moet 92 sentimeter lank en 46 sentimeter breed wees. Dit moet 70 sentimeter hoog wees.

24. Trek dit met suiwer goud oor en sit ’n goue rand reg rondom daaraan vas.

25. Slaan dan ’n lys reg rondom die tafel vas en sit ook daaraan ’n goue rand vas.

26. Jy moet ook vir die tafel ringe van goud maak soos vir die ark waardeur drastokke gesteek kan word.

27. Die ringe moet aan die lang kante op die hoeke net onder die lys vasgesit word. Twee stokke moet daardeur gesteek kan word om die tafel te dra.

28. Maak drastokke van akasiahout wat deur die ringe pas. Hulle moet ook met goud oorgetrek word. Die tafel kan aan hulle gedra word.

29. Maak ook skottels en bakke waarin die geurige wierook kan brand. Maak ook houers en bakke van suiwer goud om vir die offers van wyn en olie te gebruik.

30. Julle moet sorg dat daar altyd brood neergesit word wat vir My geoffer word waar Ek dit kan sien.”

31. “Jy moet ook ’n goue ligstaander maak. Sy voetstuk en steel moet uit een stuk goud gevorm word. Dit moet met blomkelke, blomknoppe en kroonblare versier wees.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 25